Die Naderende Storm

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Jesus maak Sy planne aan Sy Kinders bekend voor dit gebeur.

Die van julle wat gereeld ons boodskappies lees sal seker al opgelet het dat daar die laaste paar weke ‘n patroon in die boodskappe is. Ons het so ‘n paar weke gelede begin met geloof. Omtrent elke boodskap het ‘n geloof tema gehad waarin die HERE ons geleer het om op Hom en Hom alleen te vertrou. Selfs al kan ons nie sien waarheen Hy ons lei nie, moet ons weet dat God altyd in beheer is ongeag wat ook al gebeur. Hierdie is ‘n baie belangrike les en julle sal nou-nou sien waarom.

Saal met hierdie les het Jesus ons ook geleer van Sy onuitbluslike liefde vir ons en Sy absolute begeerte om ‘n verhouding met ons te hê. Jesus wil hê dat jy Hom eerste stel in alles wat jy doen. Jy mag as te ware niks op jou eie doen sonder om eers vir Jesus daarna te vra nie. Dis hoe graag Jesus deel van jou lewe wil wees! Jesus is ons vriend, ons raadsman, ons leidsman en ons God! Prys Sy Wonderlike Naam! Hierdie is net so belangrik en julle sal weereens nou-nou sien.

In die begin van hierdie maand (Desember) het begin met ‘n waarskuwing: “Maak gereed om vir Jesus te ontmoet!” Julle moet verstaan dat daar nie iets soos toeval is nie. Ek kry al hoe meer en meer die gevoel dat die tyd van die wegraping gekom het. Hierdie word deur ander ook aangevoel. Soos ek in die begin vir julle gesê het: “Jesus maak Sy planne aan Sy Kinders bekend voor dit gebeur.” En Hy doen dit doelbewus sodat ons nie omkant gevang word nie.

Etlike jare gelede het ek ‘n getuienis van ‘n 90 jarige dame van die Valdres streek in Noorweë gekry waarin die HERE vir haar gewys het wat in die jare wat kom sou gebeur. Dit was die jaar 1968 toe sy die visioen gehad het. Sy het gesê dat Jesus se terugkoms vooraf gegaan sal word deur vier vlae.

  1. Daar sal ‘n vrede tussen die super moondhede wees soos wat daar nou nooit voorheen was nie. Dit het gebeur! Daar is vrede tussen Amerika, Rusland en China en daar is geen rede om te dink dat daar ‘n oorlog sal uitbreek tussen hulle nie.
  2. Christene sal louwarm word. Hulle sal nie meer wil luister na preke oor sonde, bekering en doop nie. Om suksesvol te wees en baie geld te hê sal die plek van hierdie dinge inneem. Dit het ook gebeur!
  3. Daar sal ‘n morele verval onder die mens wees soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie en die kerke sal hierdie leefstyl verdedig asof hulle lewens daarvan afhang… Dit het ook gebeur!
  4. Sy het ook die Europese immigrasie krisis gesien en sy het gesien hoe die inboorlinge van daardie lande hierdie mense haat en hulle sleg behandel; net so sleg soos die Jode voor die Tweede Wêreld Oorlog behandel was… Dit het ook so gebeur.

Alles is gereed vir die Koms van die Seun van die Mens en die wêreld sien dit nie raak nie. Hulle dink dat die COVID 19 pandemie maar net nog ‘n krisis wat ons moet deur gaan. Hulle glo dat die teen middel wat amper gereed is gaan werk… Hulle sien nie die tekens in die son die maan en die sterre nie. Hierdie wêreld het blind geword…

Dis waarom die uitbreek van die Derde Wêreld Oorlog vir so baie ‘n absolute verassing sal wees. Dit gaan onverwags wees en uit ‘n oord wat niemand dit gaan verwag nie. Volgens die profesie gaan hierdie ‘n kort oorlog wees maar die vernietiging gaan wees op ‘n skaal soos wat die wêreld nog nooit aanskou het nie.

Ek kry die gevoel dat hierdie tyd nou baie naby is, maar ek wil nie hê dat julle bang moet wees nie. Jesus sê in Lukas 21:31 “So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.” Wees dus bly, liewe leser, want ons verlossing het gekom! Ons het vir Jesus leer ken; ons sonde is vergewe en ons weet dat God in beheer is, maak nie saak wat gebeur nie!

In Psalm 91:7 staan “Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie.” Glo dat Jesus jou sal dra, maak nie saak wat gebeur nie. Jy sal altyd veilig wees by Jesus!

Volgens die profesie sal ons die begin van hierdie oorlog sien, maar ons sal nie die einde daarvan sien nie. Hou jouself dus gereed. Moenie enige iets doen wat jou in hierdie laaste sekondes kan diskwalifiseer van ‘n ewigheid saam met Jesus nie.

Prys die Naam van die HERE van die leërskare!

(Visited 53 times, 1 visits today)