Mense besef nie elke dag net hoeveel antwoorde daar in die Bybel opgesluit is nie; antwoorde vir elke probleem wat ons mag hê!
Die een vraag wat gereeld by almal van ons opkom is die kwessie van belasting betaal; of dit nou belasting is wat van jou salaris afgetrek word en of dit nou e-tol is wat betaal moet word, dit laat almal se nekhare regop staan! Het julle geweet dat die Jode in Jesus se tyd met presies dieselfde probleem gesit het? Die Jode van Jesus se tyd moes nie net belastings aan die Keiser betaal nie, maar ook tolgeld betaal om die paaie wat die Romeine gebou het te gebruik. Net soos vandag, was die Jode van die tyd hewig gekant daarteen. Klink hierdie nie baie bekend nie? Die mense het na Jesus gekom en Hom gevra of dit reg is dat hulle tol geld moes betaal. Eers het Jesus vir hulle die muntstuk gevra waarmee die tol betaal word en daarna het Hy vir hulle gevra wie se kop en embleem op die muntstuk is. Die mense het geantwoord dat dit die keiser s’n was. Kyk wat sê Jesus vir hulle in Markus 12:17 “Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom.” Betaal dus wat die regering wat die regering toekom, maar moenie nalaat om aan God te gee wat God s’n is nie!
Jesus sê in Lukas 18:25 “Want dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.” Ek besef al hoe meer en meer hoe waar hierdie woorde is! Die van julle wat evangelisasie werk doen sal weet hoe maklik dit is om met mense wat niks in die lewe het nie, oor Jesus te praat. Hulle is soos klein honger kindertjies wat alles wat jy sê met blydskap opeet! Dieselfde kan egter nie gesê word van mense wat vermoënd is nie, want laasgenoemde wil altyd alles oor analiseer om te probeer uitvind of daar nie ‘n vangplek iewers in is nie! Vir ons wat die Woord van die Here ken is dit ‘n wonderlike leefstyl sonder enige bekommernisse of vrese. Ons sien die wil van die Here orals in ons lewens en ons sien ‘n liefdevolle Here wat vir ons net die beste wil hê en ons op verskillende maniere uit die gevaar probeer hou. Vir die wat die Here nie ken nie, is die lewe een groot slagyster waar daar geen genade of naaste liefde is nie! Natuurlik probeer ons die wat die pad nie ken nie oortuig van die beter pad, maar soos dikwels is die groot struikelblok geld. Vir die wat vermoënd is, is die leefstyl van ‘n Christen te eenvoudig en te maklik; daarom Jesus se woorde in Lukas 18!
Iets wat ek al hoe meer en meer sien gebeur is hoe baie predikers bereid is om die Woord van die Here te buig en te verdraai om in guns met die wil van mense te wees. In beide die ou en die nuwe testament word gay en lesbiese verhoudings uitgewys as ‘n gruwel in die oë van die Here. (Levitikus 18:22, Deuteronomium 23:18, Romeine 1:26-32) Ek veroordeel nie die mense wat aan hierdie praktyke deelneem nie, want as Christene mag ons dit nie doen nie. Ons mag egter uitwys dat die praktyk ‘n gruwel is in die oë van die Here en mense daarteen waarsku. Ek gaan sê soos Angus Buchan eenslag gesê het en dit is dat hy geen probleem met gay of lesbiese mense het nie. Hy het gesê dat hy dink dat baie van hulle wonderlike mense is, maar dat hy nie met hulle leefstyl kan saamstem nie. Beste antwoord ooit, maar wat egter skokkend is, is die aantal geestelike leiers wat hulle skaar aan die kant van hierdie gebruik en dit goedpraat terwyl die Bybel vir ons baie duidelik sê wat die Here hiervan dink. As hierdie stukkie iemand bereik wat homself met hierdie dinge besighou, wil ek net sê dat jy moet ophou, want jy speel met vuur! In 1 Romeine 32 sê die Bybel dat BEIDE mense wat die praktyk beoefen asook goedpraat, die dood verdien! Moenie met God spot nie, want God laat nie met Hom spot nie! Ja, jy spot met God as jy gebruiker soos dit goed praat!
Die Here het die antwoord op elke moontlike vraagstuk van mens wees in die Bybel laat opgeteken. Ons hou daarvan om te dink dat ons probleme uniek is en dat daar geen oplossing daarvoor is nie, maar dan wys die Here vir jou dat Hy al klaar daar was en dat die antwoord reeds tussen die bladsye van die Bybel opgeteken is! Al wat ons moet doen is om God se Woord te lees en ons lewens daarvolgens in te rig, dan sal dinge vir ons baie makliker gaan.
Mag die Here hierdie boodskap seën en mag jy ook die antwoord kry op dit wat jy so oor wonder!