Waardig vir die Koningryk van God

Ek staan verbaas oor die leiding van die Gees, want dis asof Jesus ons vrae vooraf weet en dan sommer sorg vir die antwoorde ook!

Ek het in die verlede verskeie boodskappe gebring oor geloof en sonde en tot  watter uiterste ons sal gaan om perfek te wil wees vir Jesus. Die antwoord op al hierdie boodskappe is dieselfde en dis dat ons geloof ons op die ou end gaan red.

Dis reg om vergifnis vir ons dade te vra; elke dag; so gereeld as wat ons kan, want dis soos dit moet wees, maar ons moet nie so op hierdie punt vasslaan dat ons vergeet van ons geloof nie. Uit genade is ons gered en daardie genade gaan baie sondes bedek die dag met die wegraping.

In 2 Tessalonisense 1:3-5 lees ons die volgende: [3]  Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word, [4]  sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur— [5]  ‘n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly;” (2 Tessalonisense 1:3-5)

Ons geloof gaan ons red omdat ons volhard het daarin ten spyte van al die ontberinge wat ons deurmaak. Jesus het gesien hoe ons volhard en bly glo ongeag die dinge wat satan in ons pad gerol het, maar kyk wat staan verder geskryf. Ons geloof in hierdie dinge en ons wil om Jesus eerste te stel in alles wat ons doen, ten spyte van die ontberinge, maak dat ons waardig is om die Koningryk van God te mag betree! WAARDIG! Prys die Naam van Jesus!

Die van julle wat nog wonder of jy waardig is om die wegraping mee te kan maak sal nou verstaan dat ons geloof in Jesus maak ons waardig maak! Prys Sy Naam!

Jesus se woorde in Lukas 21:36 het nou skielik ‘n hele ander betekenis; het dit nie? “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” en so ook Jesus se woorde in Johannes 20:29 “…salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.”

Ons het Jesus nie gesien nie en tog glo ons in Hom en glo ons in die Vader! Saam doen ons die Wil van die Vader deur daardie geloof! Ons het baie prys gegee vir Jesus in ons lewens: ‘n gemaklike lewe met baie geld, roem en aansien, maar kyk wat gaan ons kry in ruil vir ons ontberinge: die Ewige Lewe saam met die Een wat ons nie gesien het nie. Prys die Naam van Jesus!

Verstaan julle nou? Is daar enige iemand wat nog twyfel of hy of sy waardig is?

Ek weet dat ek baie van julle in die Hemel gaan sien en ek sien vreeslik uit daarna. Ek het nou vrede dat ek geneem gaan word in die wegraping as Jesus gaan kom en ek weet dat baie van julle ook nou daardie vrede het. Ons geloof in dit wat ons nie gesien het nie, gaan ons inderdaad red!

Prys die Wonderlike Naam van Jesus!

(Visited 305 times, 1 visits today)
Tagged , , , .