Waarom kan die lewe nie net maklik wees nie is ‘n vraag wat ons almal seker al ‘n paar keer gevra het…
Ek ook, want net soos julle raak ek ook moeg, gefrustreerd en kwaad want ons is nog steeds mense en dis menslik om so te voel. Ek het hierdie vraag vir Jesus gevra en Sy antwoord was dat as dit maklik was, dan sou die plantjie nie gegroei het nie…
Iemand het eenslag vir my gesê dat ‘n mens die somtotaal van al sy ondervindinge is en dis absoluut waar! Hoe weet jy dat vuur warm is en dat as jy daaraan gaan vat, jy gaan seerkry? Dis omdat jy dit iewers op een of ander stadium van jou lewe probeer doen het. Dit was een ondervinding daardie waaruit jy geleer en gegroei het.
Iemand het eenslag vir my gesê dat ‘n mens twee leuens moet vertel om een leuen na die waarheid te laat lyk. Daarna gaan jy vier leuens moet vertel om die vorige twee na die waarheid te laat lyk en so raak die probleem al hoe groter. Later is jy so verstrengel in die leuens dat jy nie meer weet wat die waarheid is en wat nie! Dis waarom dit beter is om die waarheid te praat, want dan hoef jy jou nooit te bekommer oor wat jy vooraf gesê het nie! Hierdie is ook ‘n ondervinding waaruit ons almal leer en uiteindelik groei.
Met ons geestelike kant gaan dit presies dieselfde. Die dag as ons tot bekering kom, dan begrawe ons die ou mens. Die saadjie word begrawe sodat dit kan sterf, maar dis nie iets om oor hartseer te voel nie, want uit hierdie saadjie wat gesterf het, groei daar ‘n nuwe plant in Jesus! Prys Sy Naam!
Jesus het vir ons die gelykenis van die Mostert saad vertel. Dis een van die kleinste saad soorte wat daar is, maar uit daardie klein saadjie groei ‘n magtige boom waarin die voëls later kom nes maak! Dis ‘n direkte vergelyking met ons as Kinders van die HERE. Die dag as ons die ou mens begrawe is ons klein, maar dan sterf ons en dan begin die groei proses in die Gees wat nooit ophou nie. Is Jesus nie wonderlik nie?
Hierdie groei proses is vir elke mens uniek. Nie een van ons groei op dieselfde manier nie. Die belangrikste is egter dat ons vir Jesus groei en dis waarop ons moet konsentreer. Ons konsentreer hopeloos te veel op die omstandighede as wat ons op Jesus konsentreer en dis waarom ons terneergedruk en verslaan voel.
Ons is Kinders van die HERE eerste en dan is ons in die wêreld. Wat in die wêreld aangaan is nie veronderstel om enige effek op ons te hê nie, want die Een wat in ons is, is sterker as alles! Dis waarom niks met jou sal gebeur sonder die Wil van die Vader nie. Jy sal nie eers jou werk verloor sonder die Wil van die Vader nie! En as dit die Wil van die Vader is, dan sal die Vader sorg vir ‘n ander uitweg vir jou!
Ons loop ‘n pad saam met Jesus en soms is dit beter om agter op daardie tandemfiets te gaan sit en vir Jesus te sê: “HERE, bestuur U, en ek sal net trap.” Hierdie is die boodskap vir iemand wat vandag hierdie lees. Klim ‘n slag voor van die fiets af sodat Jesus ‘n slag kan stuur. Begin jy om net te trap. Gee vir Jesus volle beheer oor jou lewe sodat Hy jou uit hierdie donker woud waarin jy is kan uit stuur. Moenie bekommerd wees as die paadjie soms nou word of daar groot klippe in die pad is nie. Onthou; Jesus ken die geheime van fietsry en Hy sal jou daaruit kry op Sy manier! Prys Sy Naam!
Raak nou stil voor die HERE en geen beheer oor aan Hom wat jou meer lief het as wat jy ooit met jou menslike verstand sal kan verstaan. Dis die enigste manier hoe jy hieruit gaan kom.
Prys die Wonderlike Naam van Jesus! Geseënd is die wat hierdie boodskap lees en dit toepas! Jesus se rykste seën vir almal!
Ek verstaan die gevoel dat ons Jesus se goedheid nie verdien nie, maar kom ek vertel vir jou ‘n geheim. Ons is almal op aarde geplaas om een baie belangrike keuse te kom maak en dit is of ons God wil aanbid of nie. Die dag wat jy jou hart vir Jesus gegee het, het jy vir Jesus die grootste geskenk ooit gegee. Uit al die keuses wat jy kon gemaak het, het jy vir Hom gekies! Jy is Jesus se gunsteling en Hy sal jou tot in die afgrond bederf net omdat jy vir Hom gekies het!
Meer as voorheen het ek n rou verlange na GOD se tasbare liefde in my lewe.
Ek ervaar SY goedheid in 2021 en ek verdien dit glad nie . . . want wat ek het is net geleen en wat ek is is net genade!
So klou ek tans met als in my aan, en ek haal aan “Raak nou stil voor die HERE en geen beheer oor aan Hom wat jou meer lief het as wat jy ooit met jou menslike verstand sal kan verstaan” want dis waarna my gees-mens smag die laaste ruk.
Dankie vir hierdie boodskap vanoggend . . .