Waarom moet daar ‘n wegraping en ‘n verdrukking wees?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Daar is sekerlik baie wat wonder oor hierdie vraag en tog is die antwoord nie te moeilik nie. Ek gaan eerste kyk na die rede vir die verdrukking.

Die eerste rede is voor die hand liggend, want ons leef in ‘n wêreld wat God soos ‘n “jack in the box” behandel! As ons God nodig het, dan word die boksie versigtig van die rak afgehaal, afgestof en oopgemaak. Dan word daar van God verwag om Sy ding te doen en as Hy klaar is, dan moet Hy weer terug in Sy boksie gebêre word vir ‘n volgende keer! Ons kan mos alles self doen en net as ons nie meer weet waarheen nie, dan is die HERE goed genoeg om geken te word.

Julle sien, die HERE wil nie net geken word as dit sleg gaan nie; Hy wil geken word in elke aspek van ons lewens! Selfs hier waar ek nou hierdie boodskap sit en tik is die HERE deel daarvan, want dis Sy Woorde wat ek hier skryf; nie my eie nie! Jesus soek net die beste vir jou en om daardie beste vir jou te kan gee, beteken dat jy tyd moet maak om Hom te leer ken soos Hy jou ken.

Die HERE het oor die eeue gesien dat die mens nooit uit sy foute leer nie. Sommige leer net as hulle op die rand van die afgrond staan met hulle een voet wat reeds oor die afgrond hang. In sulke omstandighede is daar mense wat die HERE aangryp en Hom nooit weer laat los nie en dan is daar die wat Hom weereens verwerp. Dis dan ook wat in die verdrukking gaan gebeur.

Die tweede rede vir die verdrukking is omdat daar geen ander manier is om van die boosheid in mense se harte ontslae te raak nie. Die enigste manier is om dit te laat uitwoed en mense kan sien dat ‘n wêreld sonder God net een uiteinde kan hê. Die eerste vier perde ruiters van die verdrukking is juis daarop gerig om hierdie boosheid en die mens se liefdeloosheid teenoor sy naaste te ontbloot.

In Vrede is almal gelukkig, maar as oorlog uitbreek, dan kom daarmee saam Hongersnood en die Dood. (Openbaring 6:1-8) Daar is mense wat sal toesien dat iemand eerder dood gaan as wat hy dit wat hy in oorvloed van het sal deel met iemand wat honger het. Gedurende die Hongersnood gedeelte gaan kos so duur word dat baie dit eenvoudig nie sal kan koop nie en dis dan wanneer die gebrek aan naasteliefde finaal geopenbaar gaan word.

Die HERE het vir ons twee gebooie gegee om volgens te lewe. Die eerste is om Hom (God) alleen lief te hê met alles wat ons het, want Hy sorg vir ons. Die tweede is om ons naaste bo alles lief te hê. (Mattheus 22:37-30) Daardie geld wat jy elke maand verdien is nie joune nie; dit behoort aan Jesus! Hy het jou die energie, die kennis, die lewe en die suurstof gegee om te kan doen wat jy doen. As jy van verkope afhanklik is, dan stuur die HERE kliënte na jou toe om by jou te kom koop; verstaan julle? Jy bestuur net dit wat die HERE jou gee! Baie sien dit glad nie so nie en as iemand wat behoeftig en honger is by hulle kom aanklop, dan word laasgenoemde weggejaag met stokke en klippe!

Begin julle verstaan waarom daar ‘n verdrukking moet wees? Verstaan julle dan dit die enigste manier is om van boosheid in die hart van die mens ontslae te raak?

Nou waarom moet daar ‘n wegraping wees? Omdat daar baie van ons is wat die konsep van die HERE alleen lief te hê, verstaan en ons verstaan ook die konsep van naasteliefde. Waarom sal dit vir ons nodig wees om hierdie lesse weer te leer? Ons ken dit dan en ons pas dit elke dag toe! Soos daar vir ons herhaaldelik in Romeine 5:9, Romeine 8:1, 1 Tessalonisense 5:9 en ook in 1 Tessalonisense 1:10 gesê word, is ons verlos van die Toorn van God en daarom kom hierdie toorn ons nie toe nie. Dis waarom die HERE vir ons wat hierdie konsepte verstaan eers van die Aarde gaan verwyder. Verstaan julle?

Die wat gaan agterbly gaan moet leer om meer soos Jesus te wees in doen en in late. So baie roem hulle daarop dat hulle Christene is, maar die vrugte wat hulle dra getuig van iets heeltemal anders!

Liewe lesers; ons tyd is uiters baie min. Jesus gaan ons baie gou kom haal. Asseblief! Ek smeek by julle! Maak reguit wat skeef is en maak reg wat krom is! Daar is nie meer tyd vir kerk speel nie! Jy is of gereed of jy is nie! Verander nou wat jy kan terwyl jy nog tyd het!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 393 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .