Die Trompette Blaas!

Ek is glad nie goed met die uitlê van drome nie; was nog nooit gewees nie, maar soms gee die HERE vir my ‘n droom wat geen uitleg nodig het nie.

Ek het ‘n baie nare droom gehad… In my droom het ek ‘n Engel van die HERE gesien. Hy het kort, krullerige rooierige hare gehad en hy het ‘n lang trompet by hom gehad wat meer soos ‘n beul gelyk het. Die trompet was amper so lank soos die Engel self.

Hy het die trompet opgetel totdat dit horisontaal teenoor sy liggaam was en dit geblaas. Die geluid wat daaruit gekom het was oorverdowend hard. So hard, dat dit enige aardse mens se oordromme sou laat bars.

Terwyl die eerste Engel sy trompet nog geblaas het, het ‘n tweede Engel sy trompet opgetel, maar nie so hoog soos die eerste een nie en ook daardeur geblaas. Die geluid was baie laag in frekwensie en dit het my herinner aan die geluid wat ‘n mishoring maak.

Ek het op my knieë geval en die HERE gesmeek vir genade, want ek het geweet dat hierdie ‘n waarskuwing was en dat die tyd naby was vir ons om huis toe te gaan! Liewe leser, ek smeek by julle, as daar nog iets in jou lewe is wat nie reg is nie, maak dan nou reg! Ons tyd is besig om uit te loop en ek voel dat die nag binnekort hier gaan wees.

Kyk maar om julle, veral hier in Suid Afrika… ons politikusse steel en pleeg bedrog asof dit ‘n nasionale sport is en daar is absoluut geen vergelding nie. As iemand gevang word met sy hand in die koekie pot, dan haal hy dit nie eers meer uit nie. Hy gaan net aan daarmee asof dit die mees natuurlikste ding in die wêreld is! Die mens het soos in 2 Timoteus 3 verkondig; liefhebbers van hulleself geword, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand en meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God! Kan daar nog enige twyfel wees dat die einde baie naby is?

Die HERE is briesend kwaad vir hierdie wêreld wat weier om Hom as Heerser te erken. Hy gaan binnekort vir hierdie wêreld gee presies wat dit nog altyd wou gehad het en dit is ‘n wêreld sonder God!

Asseblief! As jy ore het om te hoor, hoor dan! Die sewe jaar wat gaan volg gaan geen grap wees nie! Dit gaan die ergste tyd in die geskiedenis van die mens wees wat nooit weer herhaal sal word nie! Jy het nie nodig om deur hierdie hel te gaan nie. Redding en verlossing van God se toorn oor hierdie aarde is vrylik beskikbaar, want God se toorn kom die wat gered is nie toe nie. Jy moet dit net Jesus as jou Saligmaker aanvaar. Dis so maklik!

Asseblief! Ek smeek by julle! Moenie langer uitstel nie!

(Visited 453 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .