Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie. (Markus 1:15)
Ek wil ‘n beroep op julle doen, liewe lesers, om in hierdie laaste oomblikke voor die HERE kom alles in die stryd te werp. Jesus gaan binnekort kom om Sy Kinders te kom haal. As daar dus nog iets is wat jy in hierdie laaste sekondes wil regmaak of wil afhandel; moet dan nie wag nie!
Leef elke dag vir Jesus asof dit jou laaste dag op aarde is. Doen goed aan die wat jou haat. Moenie dat kleinlikhede jou vasbind nie. As mense stories van jou aandra, laat hulle. Moenie toelaat dat enige iets tussen jou en Jesus staan nie.
Leef die liefde van Jesus uit! Dis so maklik om kortaf met iemand te wees, maar om te gaan regmaak is so moeilik… Moenie dat satan vir jou hierdie leuens vertel nie!
Hierdie is voorwaar die laaste oomblikke… Die bruilof kamer is gereed en alles is gereed vir die feesmaal van die Lam. Al wat nog kortkom is ons! Ek kan nie vir julle sê wanneer die tyd gaan kom nie, maar ek weet dat ons nie meer lank gaan wag nie. Ek weet nie hoe ek dit weet nie…
“MAAR pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.” (Lukas 21:34)
Moenie nou afkoel nie! Dit wat jy nou vir die HERE doen gaan net so baie tel soos dit wat jy gedoen het toe die koms van die HERE nog ver was. Moenie slap lê en op jou louere gaan rus nie!
“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” (Lukas 21:36)
Moenie ophou bid nie! Ek weet dat baie van julle neerslagtig is… Jy is moeg van hierdie wêreld, moeg van die geweld en moeg van al die korrupsie wat jy elke dag sien. Breek los uit hierdie houvas wat satan en sy demone op jou het! Dis niks anders as ‘n demoniese aanval wat jy beleef nie!
“Soos ‘n groot skrik gaan dit oor die aarde kom…” (Lukas 21:35)
Sorg dat jou lampie ten alle tye vol van die olie van die Heilige Gees is! Doen alles wat jy doen asof dit vir die HERE is! Vra jouself die vraag: as Jesus nou hier was; sal Hy tevrede wees met wat jy doen? Indien die antwoord ter enige tyd nee is of dat jy nie seker is nie, wees dan op jou hoede! Satan gaan probeer om baie Christene in hierdie laaste van sekondes afvallig te maak deur hulle beswaard te maak. Moenie een van hulle wees nie!
Prys die Naam van Jesus!