Waarskuwing om Heiligheid na te streef

Julle wat gereeld my boodskappe lees sal weet hoe baie ek praat oor Heiligheid en hoe belangrik ‘n Heilige leefstyl vir die Kind van God is.

So ‘n bietjie minder as tien jaar gelede het die HERE vir my ‘n droom gegee. Dit was ‘n lang tyd gelede, maar ek kan die detail van daardie droom tot vandag nog toe onthou!

Ek het ‘n baie groot saal gesien met baie mense in, maar die saal was in twee gedeel gewees. Die linker helfte van die saal was ‘n restaurant van een of ander soort. Die mense daar het die lekkerste etes geëet wat ek nog ooit gesien het. Dit het my glad honger gemaak om te sien hoe hulle smul. Die regter helfte van die saal was ‘n openbare toilet. Ek het in my lewe al baie vuil plekke gesien, veral openbare toilette, maar dié een was die vuilste ooit! Ek het my verkyk aan hoe mense ‘n fasiliteit kan gebruik wat so vuil is en maak asof hulle die nie eers sien nie. Mense het ingekom en hulle ding gedoen terwyl mense aan die ander kant lekker geëet het. Alhoewel daar geen skeidings muur tussen die twee helftes van die saal was nie, was die twee groepe onbewus van mekaar. Dit het my verbaas dat mense so lekker kon eet terwyl daar ‘n vuil toilet in dieselfde plek is! Ek het gevra: “Here, wat probeer U vir my wys?” ‘n Stem het geantwoord: “Laat die wat vuil is vuiler word en die wat skoon is skoner.” Dis waar ek wakker geskrik het.

Ek kan nie drome uitlê nie en het daarom eers baie later die betekenis daarvan verstaan. Die uitleg van hierdie droom was opgeteken in Openbaring 22:11  “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.”

Ons almal weet hoe naby Jesus se koms is, want die aantal aardbewings het skerp toegeneem en so ook die skade wat dit aanrig. Die aantal storms het net so sterk toegeneem so daarmee saam die skade wat dit aanrig. Jesus se in Lukas 21:28  “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” Ons weet daarom dat ons verlossing naby is, maar ten spyte van hierdie dringendheid is daar nog steeds Kinders van God wat hulle besig hou met sonde…

Paulus skryf in 1 Petrus 1:14-16  “Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie. Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”

As Kind van God MOET ons Heiligheid nastreef en mag ons geen kompromie met sonde aangaan nie. Ja, dit is waar dat niemand van ons perfek is nie en dat ons almal een of ander ingee tyd val. Dit is menslike swakheid, maar dit beteken nie dat as jy val, jy moet bly lê nie! Ons kan miskien nie perfek wees nie, maar ons kan almal perfek berouvol wees en gaan verskoning vra vir ons oortredinge. Moet daarom nie met sonde ‘n kompromie aangaan nie!

Liewe Kind van God, ek wil hê dat jy moet luister en mooi moet luister. Jesus wil jou nie agterlaat om deur die verdrukking te gaan nie, maar die keuse is joune om te maak. Jesus gaan kom vir ‘n Bruid wat Heiligheid nastreef. Een wat sonder sonde, rimpels of enige iets dergelik is. Gaan jy gereed wees en jou kleed skoon as Jesus kom? Net jy kan daardie besluit maak en niemand anders nie.

Vir die wat Heiligheid nastreef, weet dat Jesus baie trots is op julle, want maklik is dit nie. Satan weet dat sy tyd min is en hy weet dat as die Bruid van Jesus van hierdie aarde weggeneem gaan word, hy nooit weer die geleentheid gaan kry om die Bruid te versoek nie. Dis waarom die versoekinge nou so baie en so intens is. Satan probeer nog een laaste keer om so veel van ons as wat hy kan agter te hou sodat hy met die wat agtergebly het kan spot en hulle kan doodmaak.

Maar dit hoe nie jy te wees wat hierdie boodskap lees te wees nie. Vergifnis en genade is nog steeds beskikbaar. Gebruik daarom hierdie gawe en moenie soos die wees wat nog vuiler word nie, maar eerder soos die wat al hoe skoner word! Prys die Naam van die HERE!

Mag Jesus hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 89 times, 1 visits today)
Tagged , , , .