Want so lief het God die wêreld Gehad

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)

Niks het in hierdie wêreld ontstaan sonder God nie. In God was die lewe en die lewe was die lig van die mense. Die lig het in die duisternis ingeskyn en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

Verstaan julle wat hierbo staan? Dis natuurlik die opening van die Evangelie volgens Johannes wat ek so kwoteer.

Jesus was die lig en die lig het na Sy eiendom gekom, maar die mense het Hom nie aangeneem nie. Maar aan almal wat Hom aangeneem het, het Hy die mag gee om Kinders van God genoem te word; aan hulle wat in Sy Naam glo.

Deur Jesus Naam is daar verlossing van ons sondes, maak nie saak wat jy gedoen het nie. Die prys vir sonde is betaal in bloed. Ons is vrygespreek; duur gekoop. Niemand hoef meer in die duisternis verwerp te word nie, maar dan moet daardie redding aanvaar word. Die kaartjie is gekoop en betaal. Al wat ons moet doen is om dit te gaan afhaal.

Die oordeel van God kom ons nie meer toe nie, want ons is vrygekoop van die oordeel! Ons wat in die Naam van Jesus glo, gaan vir ewig saam met Hom lewe. Ons is Kinders van die Allerhoogste God!

Dis wat Jesus vir ons gedoen het toe Hy in ons plek vir ons sondes gesterf het. Groter liefde het niemand as om vir ‘n ander te sterf nie. Jesus het nie nodig gehad om dit te doen nie, maar omdat Hy die wêreld en al die mense daarin so lief gehad het, het Hy die prys namens ons kom betaal sodat ons ook kan wees waar Hy is. Is dit nie liefde onbeskryflik groot nie? Groter en dieper as wat ons as mens ooit sal verstaan.

Dis waarom ons Paasfees herdenk. Ons herdenk daardie ongelooflike groot geskenk van die Ewige Lewe wat op hierdie dag aan almal beskikbaar gestel is. Ons herdenk die geskenk van die verlossing van sonde wat aan ons beskikbaar gestel is en ons Prys die Naam van Jesus daarvoor!

Liewe lesers, dit is Paasfees en die betekenis daarvan. Dank die HERE vir die genade wat Hy gehad het om te kom en vir ons die pad te wys.

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 739 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .