Ek het ‘n openbaring van die HERE ontvang wat ek graag met julle wil deel en dis een van daardie “ah-ha” oomblikke wat ons van tyd tot tyd kry waarin alles wat jy geleer het skielik sin maak.
Elke mens op hierdie aarde word gebore met ‘n onsterflike gees, ongeag of jy die Here aanneem of nie. In Genesis 2:7 bevestig die Bybel dit: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.” Hierdie gees en liggaam vorm ‘n onskeidbare eenheid wat met ‘n silwer draad aan mekaar vasgebind word. Met die dood keer hierdie gees wat deur God gegee is terug na God soos in Prediker 12:6-7 beskryf: “[6] Voordat die silwerdraad verwyder word en die goue oliekruik stukkend val en die kruik by die fontein gebreek word en die wiel stukkend in die put val [7] en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”
Na die dood van die vleeslike liggaam gaan die wat die Here as Saligmaker hier op aarde gekies het hemel toe. Die wat die Here verwerp het of geen keuse gemaak het nie, gaan hel toe, want in Romeine 3:23 staan: “…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.” Laasgenoemde vers sê almal het gesondig en dit word letterlik so bedoel, ongeag wat se goeie lewe jy op aarde geleef het. Dis die redenasie van menigte dat hulle goeie mens is wat so baie vir sy mede mens doen, maar ek kan jou verseker, liewe leser, dit maak glad nie saak wat jy sê of wat jy doen nie, want as jy die Seun (Jesus) nie het nie; het jy niks! AMEN!
In Johannes 14:6 lees ons die volgende: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Ongeag wat enige iemand vir julle vertel, JESUS is die ENIGSTE pad hemel toe. Daar is net EEN pad; GEEN ander pad nie! Daar is ook geen manier wat jy jou pad Hemel toe kan verdien met jou werke nie. Net Jesus kan jou daar kry! Prys Sy Wonderlike Naam!
Vir die wat die Here in Gees en in Waarheid aangeneem het, word die Heilige Gees as metgesel vir die pad gegee. Dis nou daardie stemmetjie in jou agterkop wat sommige mense hulle gewete noem! Nou kom ons by die “a-ha” oomblik! Die doel van die Gees is om jou leiding te gee en jou voor te berei op ‘n ewige lewe saam met God. Die Gees kommunikeer die wil van God met die siel wat gewillig is, maar die siel baklei teen ‘n liggaam wat uit wêreldse stof gemaak is, wat die begeerlikhede van die wêreld wil volbring. Dit wat die liggaam in die wêreld doen, besmet die siel en dit maak kommunikasie met die Gees van God moeiliker. Nou maak Markus 7:15 ook sin waar die Here sê “Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan…” Die Gees sal egter nooit opgee omdat die taak moeilik is nie, want in Filippense 1:6 staan “…dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig…”
Hierdie opleiding proses is egter nie maklik nie en die ondervinding daarvan is anders van mens tot mens. Gedurende hierdie opleiding gaan jy oorwin en jy gaan ook val. As ek terugkyk op my eie lewe na al die kere wat ek geval het, dan kan ek die kere nie eers meer tel nie. In 2 Korintiërs 12:9 lees ons: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Prys die Naam van Jesus!
Dit gaan dus nie oor hoe jy val nie, liewe leser, maar hoe jy opstaan en wat jy uit jou foute leer! As jy val sal satan natuurlik heel eerste daar wees om jou te oortuig dat jy nou so gesondig het dat die HERE jou nooit sal vergewe nie. LEUENS! Jesus staan gereed om jou te vergewe en jou wonde te verbind, maar dan moet jy kom vergifnis vra. Satan sal maar net te graag vir jou leuens vertel sodat jy moet twyfel aan God se genade wat onbeskryflik groot is!
Alles wat ons deurmaak gebeur omdat die Here ‘n spesifieke doel vir elkeen van ons het in die toekoms. Ons weet nog nie wat dit is nie, maar ek kan vir julle sê dat dit perfek gaan wees en ook iets wat jy nog altyd graag wou doen! Tot op daardie dag, moet ons die leiding van die Gees vertrou en staatmaak dat God in beheer is van ons lewens al lyk alles vir ons hoe deurmekaar!
Ek is so lief vir hierdie gedeelte wat Paulus aan die Korintiërs geskryf het, want dis so treffend op baie van die goed wat ons oorkom. “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” (1 Korintiërs 13:12)
Iemand het eenslag hierdie wonderlike getuienis vir my gestuur en dit voel vir my asof dit net vir my geskryf is, want dis so waar! Lees dit gerus!
Nadat ek die eerste keer vir Jesus Christus ontmoet het, het die lewe vir my gevoel soos ‘n fiets rit op ‘n tandem-fiets, en Jesus het op die agter-sitplek gesit en Hy het my gehelp trap. Ek weet nie mooi wanneer dit was dat ons plekke omgeruil het, maar sedert Hy die voor-sitplek ingeneem het was die lewe nooit weer dieselfde nie.
Toe ek in beheer was, het ek die pad geken; dit was redelik voorspelbaar – altyd die kortste pad op my manier tussen twee punte. Maar vandat Jesus Christus die stuurstang oorgeneem het, is die hele pad sommer interessant en opwindend, al hou ek soms asem in.
Hy neem ons oor asemrowende berg paaie, deur rotsagtige plekke, afdraandes teen nekbreek snelhede al wat ek kon doen was om vas te hou. Selfs wanneer dit gelyk het na skone malligheid, het Hy aangemoedig met ‘n “hou aan met trap!” Ek het bang en paniekerig geraak en uitgeroep. “Waarheen neem U my?” Hy het geglimlag en nie geantwoord nie, en ek het geleer om Hom te vertrou. Ek het my voorspelbare leefstyl vergeet en het gewoond begin raak aan die avontuur van op die agterste sitplek ry, saam trap maar geen stuurstang in my eie hande.
Wanneer ek soms begin bang raak, dan het Hy terug geleun en my hand aangeraak. Hy het my geneem na mense met gawes wat ek nodig gehad het. Gawes van genesing, aanvaarding, vriendelikheid. Hy het my beveel: “Gee jou gawes weg, dis te veel bagasie, te veel gewig.” So het ek weggegee aan mense wat ons ontmoet het op die pad, en ek het ontdek dat deur weg te gee, ek al hoe meer ontvang het, maar my vrag het nie swaarder geraak nie, die las is lig.
Aanvanklik het ek Hom nie vertrou nie, en ek was self in beheer van my lewe. Toe ek begin agter ry het, het gedink, Hy gaan ons verongeluk! Stelselmatig het ek gesien dat Hy fietsry-geheime ken. Hy het geweet hoe om deur ‘n skerp draai te beweeg, hoe om te klim oor rotse wat heeltemal te hoog gelyk het vir my, en waar om te jaag sodat ons vinniger deur die gevaarlike plekke kon gaan. Ek het geleer om my mond te hou en net saam te trap, dikwels op die mees ongewone plekke; ek het begin ontspan en selfs geleer om die natuurskoon rondom my te geniet en ook die koel wind in my gesig in die permanente kameraadskap van iemand wat my nooit begewe en verlaat nie; die Heilige Gees.
En elke keer wanneer ek seker was dat ek aan die einde was van my eie kragte; glad nie in staat om verder te gaan nie, dan het Hy geglimlag en aangemoedig: “Trap My Kind, Trap!”
Die beste beskrywing wat ek het om die HERE te dien is die een in Engels: “What-a-ride!”
Prys die Naam van Jesus!