Wat beteken dit om ‘n Groot Christen te wees?

Die term “Groot Christen” word gebruik om aan mense oor te dra dat hierdie persoon guns in die oë van die HERE het.

As enige een van ons die term “Groot Christen” hoor dan klink dit soos ‘n titel waarna daar gestreef moet word, maar ek kan julle verseker dat dit alles behalwe is en ek gaan dit ook aan julle verduidelik.

Self het ek die term al ‘n paar keer in my lewe gehoor, maar soos ‘n mens vorder in die leer skool van Jesus begin jy besef dat daar nie iets is soos ‘n groot of ‘n klein Christen nie. Dis in baie gevalle beter om daardie klein niksseggende rolletjie in mense se lewens te speel en in die besemkas te wil wegkruip eerder as om daardie “Groot Christen” te wil wees. Kom ek verduidelik.

As Kinders van God, gee Jesus vir elkeen van ons ‘n inhoud vermoë om te kan opgaar. ‘n Stoorplek as jy wil waar jy alles wat jy van Jesus ontvang kan stoor om dit later weer daaroor te beskik. Sommige het ‘n groot stoorplek wat baie kan opgaar en sommige van ons het ‘n klein stoorplek wat min kan hou. Die term “Groot Christen” word gewoonlik gekoppel aan die persoon met die groot stoorplek het. Dis die persoon wat ons almal graag wil wees!

Vir Jesus gaan dit egter nie oor hoe groot die stoorplek is nie, maar wat jy doen met dit wat vir jou gegee word. Sommige van ons stoor alles, maar ons deel nie dit wat ons ontvang het nie. Ander weer gee weer alles weg so vinnig soos wat hulle dit ontvang het en dis wat Jesus wil hê ons moet doen. Gee jou seëninge weg sodat ander ook baat daaruit kan vind en dit doen ons deur te getuig en vir mense te vertel wat Jesus vir jou gedoen het!

Jesus het balies gemaak; die sogenaamde “Groot Christene”, maar Jesus het ook Emmers, Ketels en Koppies gemaak; almal met ‘n inhoud vermoë. Ons almal wil graag ‘n balie wees, want die balie kan tot 5,000 liter water hou! Onthou dat die balie die hele tyd buite die huis staan waar dit water kan opvang wat van die huis se dak afloop. Niemand sal ooit ‘n balie binne in sy huis inbring nie, want dis waarvoor die emmer daar is! Die emmer is tog kleiner en makliker om rond te dra!

Die emmer word gebruik om die water uit die balie te tap en dan in die huis in te bring, maar niemand drink tog water uit ‘n emmer nie! Die emmer spandeer sy leeftyd op die vloer sodat daar water daaruit gegooi kan word soos wat dit nodig is. Die ketel word gebruik om uit die water te kook, maar net soos die emmer, drink niemand ooit uit ‘n ketel uit nie! Tog het die ketel ‘n doel, want wie wil nou koue tee drink? Die koppie het die minste inhoud van al die instrumente. Dit kan op die meeste net ‘n kwart liter op ‘n slag hou, maar dis die instrument waaruit Jesus tee drink! Die kleinste van al die instrumente is die wat die meeste eer kry!

Nou gaan ek met julle breine smokkel. Wat as ek vir julle sê dat die koppie wat eintlik die kleinste is en die minste inhou van almal het, eintlik die meeste gee? Julle sien, die balie is groot en dit kan geweldig baie water hou, maar die balie kan net klein bietjies water op ‘n slag gee soos om ‘n emmer mee vol te maak. Dieselfde met die emmer en die ketel, want niemand maak tog ‘n emmer of ‘n ketel vol tee op ‘n slag nie. Al hierdie instrumente gee uit hulle oorvloed uit, maar die koppie gee alles wat dit het.

Is dit nou beter om die balie te wees; die sogenaamde “Groot Christen” of is dit beter om die koppie te wees? Wat my betref, wil ek die koppie wees, want ek wil alles wat ek het vir Jesus gee en niks terughou nie! Prys die Naam van Jesus!

Of iemand nou ‘n “groot” of ‘n “klein” Christen is, wat maak dit saak? Wat saak maak is met watter oorgawe jy Jesus dien en met watter oorgawe gee tot die uitbreiding van die Koningryk van die Hemele. Maak jy tyd om ander te help of stel jou tyd tot hulle beskikking om te kan leer? Hoe is jou naaste liefde, want dis deel van jou vermoë om te kan gee. Gee jy alles wat jy het of hou jy altyd so ‘n bietjie terug vir net ingeval? Jesus wil hê dat jy alles moet gee soos die koppe alles gee. Dis die goed wat saak maak daardie en nie hoe groot jou stoorplek is nie. Prys die Naam van Jesus!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 299 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .

One Comment

  1. Amen! Dit strook présies met wat Jesus Christus ons mee vermaan – wie eerste wil wees moet dien en, die kleinste sal die grootste word. Hoe ondeurgrondelik in God se Wysheid en Liefde!

Comments are closed.