Ons weet nie wanneer Jesus gaan kom nie en dis waarom dit so belangrik is dat ons gereed moet wees in woord en wandel vir daardie dag.
Jesus begin hierdie gelykenis in Lukas 12:35-48 en dis ‘n waarskuwing aan ons, Sy Kinders om nie op ons louere te rus as dit by die uitleef van die Woord van God kom nie. Ek weet dat ek al baie hieroor geskryf het en dat sommige van julle seker al moeg is om dieselfde boodskap oor en oor te hoor, maar ek kan julle verseker dat hierdie boodskap belangrik is!
Persoonlik dink ek dat ons nou in die derde nagwaak is omdat so baie van God se Kinders opgehou het om die pad te stap. Huidige syfers wys dat ‘n kwart van alle mense wat Kinders van God was, nou nie meer is nie… So baie kerke in Amerika staan leeg, dat daar nou ‘n beweging onder die Moslems is om hierdie kerke op te koop en hulle te verander in moskees…
So baie het moeg geraak van die lang wag, dat hulle nou begin om die wat nog glo in die wegraping met woorde aan te val en te slaan. Hulle het dronk geraak van die wêreldse oorreding dat daar bie ‘n wegraping gaan wees nie…
Maar ons moet gereed wees, ons heupe omgord en ons moet genoeg olie van die Heilige Gees hê, want hierdie nagwaak gaan nie vir altyd aanhou nie. Moet daarom nie ophou bid en die Woord van God lees nie, want dis jou behoud! Sorg dat die klippe van jou gebed altaar almal daar is en dat dit nie verstrooi is deur bekommernisse nie. Leef naasteliefde uit! Ek wens ek kan dit oor en oor sê; julle moet weet dat naasteliefde baie oortredinge gaan bedek die dag as Jesus kom. Naasteliefde is die sleutel en dis uiters belangrik vir ons wat Jesus dien! Moet dit nie nalaat nie!
Vir die wat sê dat daar nie ‘n wegraping gaan wees nie; vir julle het Jesus ook ‘n boodskap. Julle het geëet en dronk geword van satan se slim paartjies en nou slaan julle julle mede diensknegte met baie slim woorde… Julle sal deel gemaak word van die ontroues as julle agtergelaat word en omdat jy nie klaargemaak het en gedoen het volgens die Wil van die Vader nie, sal jy met baie slae geslaan word.
Die goeie nuus is dat dit nog nie te laat is vir jou nie. Jy kan nog steeds ‘n omkeer maak en so deel word van die regverdiges. Jesus staan gereed om jou te ontvang, jou wonde te verbind en jou terug te plaas op die plek waar jy moet wees. Moenie hierdie kans laat verbygaan nie, want die verdrukking gaan nie die maanskyn en rose wees wat satan vir jou vertel dit gaan wees nie. Onthou; Jesus het gesê dat as daardie tyd nie verkort was nie, dan sou geen vlees dit oorleef het nie. Moet dus nie met hierdie kans speel nie, asseblief.
Vir die res van julle, hou vas wat jy het; leef jou naasteliefde uit; vergewe die wat jou te nagekom het. Onthou, die lewe is hopeloos te kort om wrokke saam met jou te sleep. Dis onnodige gewig wat jou net terug hou; werp dit daarom van jou weg.
En as jy oortree, vra dadelik vergifnis en hou op om jouself te slaan daaroor. Onthou dat versoekinge altyd daar sal wees. Dis nie hoe jy val wat saak maak nie, maar wat jy daarna doen. Jesus het jou oneindig lief en Hy sal nooit ooit Sy rug op jou draai of jou verwerp nie. Jy is Sy Kind, want jy het vir Hom gekies toe jy so baie ander keuses kon gedoen het. Jy het nee gesê vir alles wat satan jou aangebied het en ‘n lewe saam met Jesus gekies. Dis kosbaarder as al die geld op aarde. Moet jouself dus nie gering skat nie, want jy is nie.
HERE, Jesus, ek wil vra dat U almal wat hierdie boodskap lees sal seën en dat U hierdie boodskap veelvoudig vrug sal laat dra tot eer van U. Ons weet maar net te goed dat die lang wag amper om is, daarom bid ek dat U ons sal versterk om daardie laaste ent saam met U te kan hardloop. Prys die Wonderlike Naam van Jesus! AMEN!