Honderd dae van oordeel

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Ons gaan nou deur ‘n baie kritiese deel van die mens se tyd op aarde, want die HERE is besig om hierdie wêreld te oordeel omdat hulle nie wil luister en hulle wil bekeer nie…

Die HERE het vir my Mattheus 24:15-28 gegee om te lees. Dis die gedeelte wat gaan oor die vlug van die Jode na die berge. Ek kan nie vir julle sê hoe baie keer ek hierdie gedeelte al gelees het nie en ek is seker dat baie van julle dit ook al net so baie gelees het. Maar die keer het twee verse vir my uitgestaan en ek gaan hulle hier onder lys.

“wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie.” (Mattheus 24:17-18)

Hierdie verse het my herinner aan die getuienis van ‘n pastoor wat ‘n droom gehad het oor die wegraping. In sy droom het hy in ‘n veld gestaan. Agter hom kon hy baie mense oor lag en gesels, maar hy kon nie uitmaak wat hulle oor gesels nie. Skielik het hy gesien hoe die hemel oopgaan. Die mense agter hom het in vrees gegil asof iets verskriklik nou net gebeur het, maar hy was nie toegelaat om agter hom te kyk wat dit is wat gebeur nie. Hy het sy oë op die Hemel gehou en was onmiddellik weggevat.

Ek weet nie wie van julle bewus is van wat in Israel aan die gang is nie… 800 vuurpyle in twee aande was afgevuur op Israel! Maar dis nie net daar nie, dis oral! Dis betogings, aardbewings, verspoelings, noem maar op! Ek lees dat Los Angeles in Amerika nou geklassifiseer word as ‘n derde wêreld staat omdat dit een van die gevaarlikste state is om in te woon. Misdaad gaan deur die dak en niemand is nêrens meer veilig nie. Eintlik is niemand in die wêreld meer veilig nie, nie eers hier in Suid Afrika nie!

Weet julle wat is die wonderlikste van alles? Ons wat Kinders van die Een Ware Lewende God is, is veilig! Niks sal met ons gebeur nie, want satan het geen mag oor ons nie! Prys die Naam van die HERE! Nou is dit die tyd vir ons as Kinders van die HERE om te skyn! Ons wat deur die wêreld verag word ter wille van ons geloof en kyk nou net! Ons wat altyd in vrees moes geleef het, moes wegkruip en versigtig moes wees wat ons sê; kyk net nou! Nou is ons die wat met ons koppe omhoog kan loop sonder vrees danksy die Een wat ons aanbid en vir wie ons lief is! Is Jesus nie wonderlik nie?

Maar as die wêreld dink dat hulle nou baie gesien en beleef het, dan is hulle so ver verkeerd dat dit net nie snaaks is nie! Iemand wat ek op Internet volg het ‘n openbaring van die HERE gekry dat ons nou in die honderd dae van oordeel is voor Sy koms. Ek is nie iemand wat datums vasmaak aan wanneer die HERE gaan kom om ons te kom haal nie, maar weet dat die tyd nou baie naby is!

Kyk vorentoe en vertrou op die HERE! Moenie omdraai nie en moenie terugkyk nie! Alles wat agter jou is, is verby; dis verlede. Moenie soos Lot se vrou halfpad omdraai om terug te kyk na Sodom nie! Konsentreer op dit wat voor jou is en in die lewe saam met Jesus wat vir ons wag! As daar een of ander krisis in jou lewe is, laat dit in die hande van die HERE. Moenie gaan soek vir redes waarom alles verkeerd geloop het nie. Konsentreer op Jesus en op niemand anders nie! Daar gaan geliefdes wees wat gaan agterbly. Al wat ons vir hulle kan doen is om vir hulle te bid terwyl ons nog tyd het.

Jesus sê in Mattheus 24:5 vir Sy dissipels “Moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind.” Moet dus nie bevrees word as julle van al hierdie dinge hoor nie, want dit moet gebeur. In Mattheus 24:33 gee Jesus vir ons die volgende vertroosting: “So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” Ons verlossing is baie-baie naby, liewe lesers! Prys die Naam van Jesus!

“Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” (Mattheus 24:27)

Skielik, soos ‘n groot skrik gaan dit gebeur! Hou jou oë op Jesus en moenie om jou rond kyk nie. Moet ook nie agter jou kyk nie, want wat voor jou is, is baie belangriker as wat agter jou is!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 269 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .