Ek weet nie van jou nie, maar ek het twee soorte bid in my lewe.
Die een is sommer die gewone praat met God, geliefdes voor Sy voete lê, Hom aanbid vir Sy liefde en sorg, en dan opstaan en die dag voluit aanpak.
En dan is daar die amen en koebaai bid. Daardie oggende wat jou bid nie woorde wil kry nie, en sommer net rou emosie is: verlange wat te veel word, vrees vir dinge wat wag, hartseer oor dinge wat gebeur het.
En as mens so voor die Here ‘voel’, wil mens nie amen sê nie … want amen voel party dae soos koebaai, so al asof jy en God julle eie koers gaan inslaan, tot die volgende gebed natuurlik.
Op sulke dae klou jy wanhopig aan die Here vas; weet jy met kinderlike geloof dat die Here jou nie mag los nie. Nie op daardie oomblik nie; nooit nie.
Iemand het eendag gesê dat mens soms moet bid, en ander kere net moet toelaat dat die Here jou liefhê…
Op amen en koebaai dae, mag jy maar net stil by Hom sit en Hom vra om vir jou lief te wees.
Op amen en koebaai dae, mag jy jou oë toemaak en in jou gedagtes voel hoe die Here jou styf vashou.
Op amen en koebaai dae mag jy maar jou kop teen Sy bors laat sak, en huil.
Op amen en koebaai dae maak dit nie saak of jy amen sê nie, want die Een wat jou naam in Sy handpalm geskryf het, het gesê:
“Moenie bang wees nie (nie vir die hartseer van verlang na ‘n geliefde nie, nie vir die spoke van die verlede of die uitdagings wat voorlê nie), want Ek is by jou … Altyd” AMEN!
Met dank aan Pierre Cronjé wat hierdie pragtige stukkie geskryf het. God seën jou!