Hierdie is ‘n vraag wat elke Christen een of ander tyd oor wonder en ek sluit myself hierby in, want ek het ook al oor die een gewonder!
Ek weet maar net te goed hoeveel kontroversie daar oor hierdie onderwerp is! Sommige sê dat dit nie moontlik is vir enige iemand om as hy of sy eers gered is om daardie redding te verloor nie, maar as jy Mary K Bakster se boeke oor haar ondervinding in die hel saam met Jesus te lees, dan gaan jy verbaas wees hoeveel christene daar in die hel is; veral leraars! Die vraag is dus nou: kan ek my verlossing verloor as ek gered is?
Julle sien; ons struikel en val oor kontroversiële vrae soos die omdat ons die Bybel net gedeeltelik lees. Ons vat dit wat vir ons reg klink en maak dit ons eie sonder om meer in diepte te gaan soek. Dis soos om in wiskunde die eerste antwoord te gryp wat sin maak en daarna net daardie oplossing te gebruik vir elke verdere som wat jy kry. Soortgelyk kan ons nie net die een gedeelte van die Bybel lees nie en die res ignoreer nie. Jy moet die HELE Bybel lees as jy wil verstaan wat daarin staan.
Die wat glo dat jy nie jou verlossing kan verloor nie, ongeag wat gebeur, is baie lief om Romeine 8:38-39 aan te haal: “[38] Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge [39] of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.”
Hierdie vers is natuurlik absoluut waar, want niks sal enige een van ons skei van die liefde van Jesus nie; selfs al dwaal jy af en selfs al pleeg jy die mees afskuwelikste moord, sal die HERE vir jou altyd lief bly. As enige een van julle Mary K Bakster se boekie oor die hel lees, sal hierdie vers hierbo vir julle nog meer betekenis hê, want Jesus het tot die wat veroordeel is tot die hel nog steeds lief! Dis hoe diep die liefde van die HERE gaan! Dis so diep dat ons as mens dit nooit sal kan verstaan nie, maar dit beteken nog nie dat jy gevrywaar is om nooit jou ewigheid te verloor nie!
Dis ‘n feit soos ‘n koei dat God ‘n God van liefde is! Daar is geen redenasie wat hierdie stelling ooit sal kan weerlê nie, maar God is ook ‘n God van regverdigheid en van oordeel en van reëls. God kan enige iets doen ter enige tyd, maar uit Sy liefde vir ons, het Hy homself laat bind deur dieselfde reëls wat Hy vir ons daargestel het. Is dit nie nog ‘n bewys van die liefde van onse Christus Jesus nie?
Maar nou kom die interessante deel: In 1 Korintiërs 6:9 waarsku Paulus vir ons met die volgende waarskuwing: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie?” As dit nie vir ons moontlik was om ons verlossing te verloor nie; waarom dan hierdie vers in die Bybel insluit? Ek kan selfs verder gaan deur te sê dat soortgelyke waarskuwings ook in Hebreërs 10:26 en in 2 Petrus 2:20 aangeteken is! In Judas 1:3 word ons weereens gewaarsku om kragtig te stry om ons verlossing te kan behou. Regdeur die Bybel word ons vermaan om sterk te staan in die geloof en die goeie stryd te stry tot die einde toe. In Johannes 15:6 sê Jesus dat as ons wat in die HERE is nie goeie vrugte dra nie, ons uitgewerp sal word. Dit beteken dat as jy as geredde Christen ophou om die HERE te volg en terugval in die wêreld, jy in die hel uitgewerp sal word! Selfs in Openbaring 3:5 sê die HERE: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.” Weereens, as jy nie aanhou stry om die geloof te behou en aanhou baklei teen satan se versoekinge nie, sal jou naam uit die boek van die lewe uitgewis word!
Daar is dus geen ander gevolgtrekking dat dit geheel en al moontlik is om nadat jy gered is weer in sonde te verval en sodoende jou verlossing te verloor nie. Om verlos of gered te wees beteken glad nie dat jy nou kan sondig soos jy wil nie, want jy is mos gered nie! Dit is dus geheel en al moontlik om jou verlossing te verloor as jy nie hard teen satan en sy versoekinge stry nie.
Julle moet ook weet dat selfs al verval jy terug in sonde en selfs al gee jy jou verlossing prys, sal die HERE nog steeds Sy liefde vir jou bewys deur alles in die stryd te werp om jou terug te kry. Maar ten spyte van al hierdie goeie pogings, bly die keuse om die HERE te volg joune. Jy het die vryheid van keuse en net jy kan besluit of jy vir satan en die plesier van die wêreld wil laat staan om terug te kom na die HERE toe.
Natuurlik sal satan sy uiterste beste doen om jou te weerhou om na die HERE terug te keer. Hy sal sy beste leuens gebruik soos dat die HERE briesend kwaad is vir jou. Leuens, leuens, leuens! Soos ek reeds gesê het; selfs al pleeg jy moord of selfs al is jy ‘n pedofiel of selfs al het jy egbreek gepleeg, die HERE bly lief vir jou en Hy staan nou gereed om alles wat jy verkeerd gedoen het te vergewe! Jy moet net daardie eerste stap neem en sê: “Jesus ek is jammer!” Liewe leser, dis so maklik en dis so eenvoudig.
Moenie dat satan vir jou stories vertel en jy so in die hel beland deur jou trots nie. Ons almal het die vryheid van keuse, maar dit beteken nie dat ons vry is van die gevolge van daardie keuse nie. Maak dus die regte keuse vir die HERE!
Prys die Naam van Jesus!