Ons vergeet tog so gou dat Jesus die hele tyd met ons is en dat Hy gereed is om ons te hulp te snel, maak nie saak wat verkeerd is nie.
Dis doodstil in die graad twee klas. Almal is druk besig met die werk wat juffrou vir hulle gegee het, behalwe die agtjarige Henry. Hy is dood benoud. Hy kyk rond en wonder of sy hart nie maar sommer net wil ophou klop nie, want tussen sy voete en voor by sy broekie is daar twee groot nat kolle. Hoe het dit gebeur. Hy het nog nooit so ‘n ongeluk gehad nie. As een van die seuns nou moet opkyk en dit raak sien sal hy nooit die einde daarvan hoor nie, om van nie eers van die meisies te praat nie; hulle sal nooit weer met hom wil praat nie…
Hy laat sy koppie op sy hande sak en saggies prewel hy: “Liewe Jesus hierdie is ‘n noodgeval. Ek het hulp nou dadelik nodig. Nog vyf minute dan is ek morsdood van skaamte…”
Hy kyk op en sien dat sy juffrou reguit na hom toe aangestap kom en hy weet dat sy geheim nou uitgevind gaan word. Terwyl sy juffrou tussen die banke na hom toe stap kom Suzie, sy klasmaat, met ‘n beker vol water in sy rigting gestap. Reg langs sy tafel struikel sy en meer as helfte van die water in die beker beland oor Henry en oor sy skoot. Hy spring verontwaardig op, maar in sy hart sê hy die heel tyd: “Dankie Jesus, dankie Jesus.”
Daar breek pandemonium in die klaskamer uit. Juffrou gryp hom by die hand en hardloop met hom na die skool se klere winkel waar sy vir hom ‘n broekie en hemp kry wat pas en sy laat hom dit dadelik aantrek terwyl sy die sopnat klere in ‘n plastiek sakkie sit sodat hy dit kan huis toe neem.
Terug in die klas is al die ander kinders onder sy tafel besig om met lappe die water op te vee. Hy word amper verdrink in al die simpatie en almal wil by Suzie weet waarom sy so lomp en onbeholpe is. Jesus het sy vernedering in simpatie verander!
Aan die einde van die dag het hulle vir die skoolbus gewag en Henry het na Suzie gestap en vir haar saggies gevra of dit regtig ‘n ongeluk was. Saggies sê Suzie vir hom: “Ek het ook eendag so ‘n ongeluk gehad. Ek weet hoe dit voel.”
Dit maak nie saak hoe benard jou omstandighede is nie. Jesus is net ‘n gebed ver en Hy het altyd iemand op bystand om jou te hulp te snel.
Hy verander jou omstandighede en hy omskep ‘n verleentheid in ‘n getuienis. Roep Hom aan in jou oomblik van benoudheid en Hy sal jou uithelp!
Prys die Naam van Jesus!
Hierdie storie is aan my gestuur deur iemand anders. Ek weet nie wie die skrywer van hierdie storie is nie, maar ek weet dat Jesus jou sal seën.