Die twee gevaarlikste leuens

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek het hierdie boodskap op geleentheid vir julle gebring, maar die HERE wys vir my dat dit nodig is om dit te herhaal.

Die twee mees gevaarlikste leuens vandag is: “Jy is ‘n goeie mens” en “omdat die HERE is ‘n God van liefde is, sal Hy jou nie straf nie”. Hierdie leuens word elke dag regdeur die wêreld aan miljoene vertel en die ergste is dat mense dit glo!

Kom ons begin by die eerste leuen; die een dat jy ‘n goeie mens is. Ons is almal goeie mense. Gaan maar as enige begrafnis en jy sal net hoor hoe ‘n goeie mens die oorledene was… Wat ons egter nie besef nie is dat ‘n denkwyse soos dit die deur vir satan oop maak en so begin baie te redeneer dat hulle tog goeie mense is. Hulle gaan gereeld kerk toe; hulle doen goeie dade; hulle roof, steel en moor nie en daarom is hulle goeie mense.

Die rede waarom die stelling hierbo ‘n leun is, is omdat die HERE in Sy Woord vir ons so sê! In Romeine 3:10-12 en 23 staan daar: [10]  Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.  [11]  Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.  [12]  Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” “[23]  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”

Bogenoemde teks vers beteken daarom dat goeie mense nie Hemel toe kan gaan nie! Goeie mense kan nie Hemel toe gaan nie omdat hulle die heerlikheid van God ontbreek. Julle sal seker nou Jesus se woorde in Johannes 14:6 beter verstaan toe Hy gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Jesus is die enigste manier tot regverdiging. Daar is geen ander manier nie! As jy nie Jesus het nie, kan jy nooit goed genoeg wees om Hemel toe te kan gaan nie!

Maak dus seker liewe leser, dat jy gered is deur die bloed van die Lam! En as jy nie seker is nie, gaan op jou knieë en vra die HERE om jou siel te red en doen dit nou! Moenie uitstel nie. Jesus gaan kom om die wat Syne is te haal en as jy nie gereed is nie, GAAN jy agterbly in ‘n wêreld wat deur satan geregeer gaan word! Moet dus nie langer wag of uitstel nie!

Die tweede leuen wat met die bogenoemde een hand in hand gaan is: “omdat die HERE is ‘n God van liefde is, sal Hy jou nie straf nie”. Daar is mos nie iets soos ‘n hel nie en sal ‘n liefdevolle God werklik iemand aan die einde van sy lewe in ‘n put wat brand met swael en vuur gooi?

Ja, Hy sal, want behalwe dat Hy is ‘n God van liefde is, is Hy ook ‘n God van reg en geregtigheid! Die boek van Openbaring is vol daarvan! In Openbaring 20:10 lees ons: “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” Om daarom te sê dat die HERE ‘n God van Liefde is en iemand nie sal straf nie is ‘n LEUEN, want hier doen hy dit met satan, die Antichris (die dier) en die vals profeet!

Verder lees ons in Openbaring 20:15 die volgende: “En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” Hierdie sluit ons almal in, liewe lesers, ongeag of jy ‘n goeie mens was of nie! Al wat jou gaan red van daardie toekoms is dat jy Jesus aanvaar het as jou Saligmaker, want dan sal jou naam in die Boek van die Lewe staan en sal jy nie in die poel van vuur gewerp word nie.

Ek weet maar net te goed dat daar sommige is wat sal sê dat hierdie “old school” is, maar weereens is jy verkeerd, want Openbaring praat van dinge wat nog nie gebeur het nie en in die toekoms gaan plaasvind!

Die vraag wat ons onsself moet afvra is wie jy gaan glo. Gaan hy die samelewing glo wat sê dat die HERE ‘n God van liefde is en ons daarom nie gaan straf nie. Hy is mos nie meer die HERE van die ou testament nie en hierdie is die nuwe tyd! Of gaan jy die Woord van die HERE glo wat sê dat die HERE ‘n God van liefde is, maar ook ‘n God van geregtigheid en oordeel?

Lesers, hierdie is twee baie gevaarlike leuens: “Jy is ‘n goeie mens” en “omdat die HERE is ‘n God van liefde is, sal Hy jou nie straf nie”, maar dit is teenstrydig met wat die Woord van die HERE vir ons leer.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!