“En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.” (Handelinge 2:17)
Ek het onlangs iemand ontmoet wat hierdie gawe het om drome te kan droom. Terselfdertyd gee die HERE dan ook die uitleg aan hierdie persoon sodat laasgenoemde die mense kan waarsku oor wat gaan kom. Dis hoe ek vandag se boodskap kon skryf, gebaseer op hierdie persoon se droom en die uitleg daarvan.
In die droom was hy in ‘n huis langs die see saam met sy ma. Dit was ‘n pragtige dag met net ‘n paar wolkies wat sigbaar was. Skielik het die lug donkerder begin word en die persoon sê dat hy ‘n baie groot donker wolk oor die horison sien opkom het. Die van julle wat al by die see was, sal weet dat storm weer nie sommer binne sekondes toesak nie. In die meeste van gevalle sien jy die storm van ver af kom en vat dit ure voor die storm die land bereik. Hierdie storm was egter anders gewees, dit het baie vinnig beweeg en saam met dit het die seevlak gestyg totdat dit bokant die water bokant die vensterbank was. Water het oral by die huis ingekom.
Hierdie persoon en sy ma het uit die huis uitgeswem omdat hulle geweet het dat hulle nie meer veilig in die huis was nie. Hulle het ‘n stem van êrens gehoor wat gesê het dat al die ontsnap roetes versper was… Hierdie persoon het geweet dat hy op die HERE kon vertrou om vir hulle uitkoms te gee ten spyte van die slegte nuus wat hulle nou net gehoor het en dis toe hulle die rotsformasie sien wat bokant die water uitgesteek het. Hy het sy ma daar gelos om te gaan hulp soek.
‘n Ent verder het hy op ‘n klomp grotte afgekom met mense in, maar hulle wou hom nie toelaat om in te kan gaan nie, want dan sou daar nie genoeg kos wees vir almal om te oorleef nie. Hy was egter vas berade om skuiling in die grotte te gaan soek ten spyte van wat die mense gesê het en het daarom teruggeswem om sy ma te gaan haal. Hy het haar gevind op die rotse waar hy haar gelos het en hulle het toe saam na die grotte geswem. Toe hulle daar aankom, was die grotte almal onder water.
Die volgende oomblik het hierdie persoon en sy ma hulle in die Hemel bevind saam met duisende ander mense. Vier engele met baarde het aan hulle verduidelik wat gebeur het, maar die verduideliking daarvan kon die persoon nie meer onthou nie, want dit word van hom weerhou.
Die betekenis van die droom soos deur die Gees bekend gemaak is dat daar binnekort iets vreeslik op aarde gaan gebeur. Dit gaan ‘n poging wees van die Antichris om die wêreld oor te vat en dit gaan aan hom gegee word om te kan slaag. Dit is die betekenis van die storm wat skielik van die see af toegeslaan het.
Water het nog altyd ‘n groot menigte mense in die Bybel voorgestel en die stygende water dui daarom dat die aantal mense al hoe meer en meer gaan word. Die wat stil gaan raak voor die HERE, gaan bid en die HERE gaan vertrou vir ‘n uitkoms sal relatief maklik deur hierdie storm gaan. Die wat nie glo nie of die HERE nie wil ken nie, gaan baie bekommerd wees oor wat gebeur.
Die mense in die grot was die wat op eie stoom hulleself probeer red. Jy sal jouself nie kan red nie, veral nie as jy nie naasteliefde het om jou medemens in die proses te wil help nie. Jy sal dan omkom wat dan ook is wat gebeur het toe die grotte almal onder die water verdwyn het.
Te midde van hierdie gebeurtenis, gaan die wegraping plaasvind. Die wat gered is en wat naasteliefde in hulle harte het vir hulle medemens sal geneem word saam met die duisende ander wat gereed is en die Koning verwag!
Liewe leser, as jy hierdie lees en jy is nog nie gereed nie of jy het nog nie vir Jesus aanvaar nie, moet dan asseblief nie langer uitstel nie. Die verdrukking wat gaan volg gaan geen grap wees nie. Jy gaan jouself op geen manier kan red nie. Daar gaan nêrens wees waar jy gaan kan wegkruip en nie gevind kan word nie. Binne die eerste twee jaar van die verdrukking sal daar ‘n wêreld oorlog wees. Miljoene sal dood gaan as gevolg van die oorlog en die hongersnood wat daarop sal volg. (Openbaring 6:5) Die Bybel sê dat kos so duur gaan word dat dit jou ‘n hele maand se salaris sal kos om genoeg kos te kan koop vir een persoon vir een dag! Ek hoef nie vir julle te sê hoeveel mense sal doodgaan as gevolg van honger nie!
Liewe Kind van God, hierdie oordeel is maar net die begin… Baie erger dinge wag nog op die wat gaan agterbly! Die Bybel sê in Mattheus 24:22 “En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” Hierdie oordeel kom jou nie toe nie en jy het nie nodig om dit deur te maak nie. Al wat jy moet doen om gered te word hiervan is om jou hart vir die HERE te gee. Daarom wil ek by jou smeek om dit nou te doen. Moenie langer uitstel nie. Moenie wag tot dit te laat is en jy niks daaraan kan doen nie! Gaan nou op jou knieë en maak reg wat stukkend is, asseblief!
Om hierdie boodskap te bevestig, het die HERE vir my vanoggend die volgende vers in die Bybel gegee: “Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was—sodat die Skrif vervul sou word—het Jesus gesê: Ek het dors!” (Johannes 19:28) Alles is volbring! Van hier af sal die geskiedenis homself afspeel soos dit moet tot die HERE kom om ons te kom haal. Dis net ‘n kwessie van tyd…
Mag die HERE hierdie boodskap seën!