Kontrolelys vir die ewigheid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons tyd om te vertrek is byna hier en daarom het ek hierdie kontrolelys saamgestel sodat almal gereed kan maak om die Koning te ontmoet!

‘n Heilige Leefwyse. In die Woord van God staan geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”  (1 Petrus 1:16) Hierdie is ‘n opdrag vir ons as Kinders van God om Heiligheid na te streef. Dit beteken dat elkeen van ons verplig is om sonde uit ons lewens te verwyder. Onder geen omstandighede mag die vleeslike deel van ons as Kinders van die HERE lewens wees nie. Ek kan nie begin om vir julle te sê in hoeveel gevaar julle is, as daar vleeslike sonde in julle lewens is nie! Kyk wat skryf Paulus vir ons daaroor: [3]  Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; [4]  dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, [5]  nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie; [6]  dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here ‘n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het. [7]  Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.” (1 Tessalonisense 4:3-7)

Om sonde uit jou lewe te verwyder is geen maklike taak nie en dit vat tyd. Jy gaan dit ook nooit ten volle kan regkry nie, want as mense is ons net te swak daarvoor, maar ons elkeen kan ‘n poging aanwend! Daardie poging wat jy aanwend, tel meer as wat jy ooit sal besef, want deur daardie pogings sal jy uiteindelik sterk genoeg wees om te kan nee sê!

Onthou Paulus se woorde aan die Korintiërs: “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” (1 Korintiërs 6:10) Onder geen omstandighede mag ons met die wêreld gelykvormig wees nie, want dan loop jy die gevaar om agter te bly.

Naasteliefde Naasteliefde is wat ons onderskei van die res van die wêreld! Dit is wat ons as Kinders van die HERE uniek maak. Kom ons kyk wat sê Paulus aan die Romeine oor naasteliefde: [8] Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ‘n ander liefhet, het die wet vervul. [9] Want dít: Jy mag nie egbreek nie, jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie, jy mag nie begeer nie, en watter ander gebod ook al, word in hierdie woord saamgevat: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  [10]  Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet. (Romeine 13:8-10)

Mense sê altyd dat om die Tien Gebooie na te kom so moeilik is, maar kyk wat sê Paulus: deur ons naaste lief te hê, vervul ons al die bepalings van die Tien Gebooie, want ons sal geen begeerte hê om te wil doodslaan, steel, valse getuienis gee, begeer of wat ook al nie! Is dit nie wonderlik nie? Leef daarom jou naasteliefde uit so ver en wyd soos jy kan!

Gebed

God is absoluut heilig. In Sy teenwoordigheid is daar geen sonde nie. Ons leef in ‘n sondige wêreld en die stof van daardie sonde kleef aan alles vas wat ons doen. Dis waarom gebed so belangrik is, want in daardie oomblik wat jy bid, word die stof van daardie sonde afgeskud sodat jou gebed geheilig kan word. Dis waarom dit so belangrik is dat ons onder geen omstandighede ons gebedslewe afskeep nie. Bid daarom sonder ophou.

My lekkerste tyd om met Jesus te gesels is wanneer ek alleen is: in die motor, langs die pad, maak nie saak nie. Vertel Hom van jou dag. Vertel Hom van alles wat jou pla. Gesels met Jesus asof Hy reg langs jou staan en jy sal verbaas wees oor die effek wat dit het!

Onthou dat satan jou nie kan aanval as jy met Jesus gesels nie. Jou gebed word beskerm en satan het geen mag daaroor nie, so gesels jou hart uit, so veel en so baie as wat jy wil! AMEN!

Onderwerp jou aan God.

Vir ons as Kinders van God is dit een van die belangrikste dinge om te doen; om Jesus eerste te stel in alles wat ons doen. Hy is tog immers die wynstok en ons die lote. Sonder Hom is ons tog niks! Ons hele lewe behoort ‘n Heilige Offer tot God te wees en dis nie so moeilik om reg te kry nie, want as jy ‘n Heilige Leefwyse volg en Naasteliefde toepas, dan sal jy outomaties God eerste stel in jou lewe.

Liewe lesers, hierdie is ‘n baie kort lysie, maar ek voel tog dat ek die belangrikste aangeraak het. Daar is heel moontlik nog meer wat ons kan doen, maar vir jou voel ek dat hierdie die belangrikste is. Ek weet nie hoeveel tyd ons nog het nie, maar ek kan aanvoel dat dit nou nie meer lank is nie. Maak dus gereed, want as Jesus kom, dan wil ons gereed wees om dadelik saam te kan gaan.

Mag die HERE hierdie boodskap aan almal wat dit lees se harte seën!

(Visited 83 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .