Die waarheid is van hulle oë bedek

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die wonderlikste deel vir my om ‘n Kind van Jesus te wees is die manier hoe die Gees jou aan die hand vat en jou leer. Die lering van die Gees is nooit hard of gewelddadig nie, maar sagkens, met liefde en deernis. Prys die Naam van die HEER!

Iemand wat die Woord van die HERE bedien is in baie opsigte soos iemand wat saad saai. Jy loop deur die vars omgeploegde land met die sak met saad om jou skouers en dan vat jy ‘n hand vol saad en strooi dit op die grond uit, Wat daarna met die saad gebeur weet jy nie. Soms groei dit en soms nie. Soms groei die dorings vinniger as die saad en verstrengel dit die plantjies. Soms pik die voëls dit op, maar dit wat in die goeie grond val, hulle groei en lewer ‘n groot oes op.

Maar ons is almal mense en ons wonder soms oor die wat ons bedien. Jy wonder of jy enige impak het en of mense tog luister en as hulle nie luister nie, waarom nie. Ek is seker dat daar van julle is wat ook al oor hierdie gewonder het. Ons almal weet dat die koms van Jesus vir Sy Bruid voor die deur is, maar tog is daar mense wat hulle lewens leef asof dit maar net nog ‘n dag is om verby te kry…

En dis hier waar die leiding van die Gees ingetree het, want ek het die oggend jy Bybel oopgeslaan met my oggend Godsdiens net soos ek al baie voorheen gedoen het. Ek het nog stilletjies gewonder waarom ek die gedeelte kry van Jesus se intog in Jerusalem soos dit in Lukas beskryf word.

Nou voor ek verder gaan, gaan ek julle eers verbaas. Jesus se intog in Jerusalem word in al vier die Evangelies beskryf en dis amper woord vir woord dieselfde, maar net die gedeelte in Lukas het hierdie gedeelte in en nie een van die ander Evangelies nie: “en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek.” (Lukas 19:42) Dis die vers wat uitgestaan het vir my; veral die gedeelte “Maar nou is dit vir jou oë bedek.”

Julle sien; jy kan met mense praat oor die wegraping. Jy kan vir hulle wys wat Jesus gesê het en jy kan dit in vergelyking bring met dit wat nou in die wêreld gebeur. Jy kan ook vir hulle wys hoe die profesie vervul is en jy kan ag slaan op die verskriklikhede van die verdrukking, maar vir die oorgrote meerderheid mense op hierdie aarde is die waarheid van hulle oë bedek. Hulle word letterlik geestelik verblind sodat hulle die waarheid nie kan sien nie.

Ek weet dat daar baie van julle is wat met dieselfde dilemma sit as ek; wat net soos ek gefrustreerd word omdat jy praat en praat en dis asof jy teen ‘n muur vas praat. Nou weet jy waarom, maar ek wil vir jou sê om nie moed te verloor nie. Dis nie dat daar nie aan jou gehoor gegee word nie; daar word inderdaad geluister, maar omdat hulle geestelik blind is, sink die betekenis van wat jy sê nie in nie. Na die wegraping gaan die sluier van geestelike blindheid van baie gelig word en dan gaan hulle verstaan wat dit is wat jy gesê het, maar vir nou is die betekenis vir hulle oë bedek.

Dit beteken nie dat jy moet ophou praat daaroor nie en dis ook waarom dit so belangrik is om ‘n “agterbly boodskap” te los. Die wat gaan agterbly gaan ‘n dors hê vir die dinge van die HERE en deur ‘n boodskap te los met gedeeltes oor hoe om gered te word en wat alles nog gaan gebeur gaan jy baie mense bereik wat nie nou bereik kan word nie. Onthou dat geen poging wat jy vir Jesus aanwend ooit verniet is nie.

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 255 times, 1 visits today)
Tagged , , .

One Comment

  1. Amen! Dankie vir elke Boodskap en en-ook aan u en elkeen wat vir Jesus Christus wag – mag elkeen ‘n geseënde Hemelvaartsdag beleef en dat ons moet moed hou en heilig lewe

    Dis die tyd nou – waarin die vyf dwase maagde olie vir hul lampe gaan koop het… Wees gereed – hou goeie moed!

Comments are closed.