Die wegraping van die kerk

Die wegraping van die kerk

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek hoef seker nie vir julle te sê dat die wegraping van die kerk die een gebeurtenis gaan wees wat die wêreld tot stilstand gaan ruk nie!

Op die oomblik is die wêreld verdeel in drie kampe: die wat glo, die wat nie glo nie en die wat draad sit. Na die wegraping gaan daar net twee kampe oorbly: die wat nie glo nie en die draad sitters wat skielik gaan glo!

Dit verbaas my hoeveel mense daar skielik is wat drome oor hierdie dag van die HERE kry. Elkeen van hierdie drome vertel ‘n gedeelte van die storie en as ‘n mens al hierdie beskrywings bymekaar sit, dan begin jy ‘n prentjie te vorm van wat op daardie dag verwag kan word.

Ons weet reeds dat die oordeel van God wat oor hierdie wêreld uitgestort gaan word nie ons wat gered is toekom nie (Romeine 8:1, 1 Tessalonisense 5:9 en 1 Tessalonisense 1:10), dus kan ons wat gered is en met die Gees vervul is met sekerheid sê dat ons nie meer op hierdie aarde gaan wees na die wegraping nie. Buiten die wat gered is, is daar ook die wat ontoerekeningsvatbaar is. Ek verwys nou na babas en jong kinders wat nog te jonk is om reg van verkeerd kan onderskei. Hulle sal ook geneem word. Die Bybel sê vir ons dat hierdie binne ‘n oogwink sal plaasvind: een oomblik hier en die volgende oomblik weg.

Ek was “stout” en het vir die HERE gevra of Hy vir my sal wys hoe vinnig alles gaan verander en Hy het vir my ‘n droom gegee van ‘n geweldige storm wat skielik losgebars het. Ek kon sien hoe die storm kom, maar voor ek die letter “W” van die woord “WAT” kon uitspreek; was alles reeds verby! Ek kan jou verseker, liewe leser, dat as jy gehoop het dat daar tyd gaan wees om enige iets op daardie laaste minuut reg te maak, dan is jy so verkeerd soos wat jy nog nooit in jou lewe was nie. Jy gaan of reg moet wees of jy gaan agterbly om te leer om meer soos Jesus te wees. Daar gaan geen tyd wees om reg te maak dan nie.

Vir die wat gaan agterbly gaan hierdie ‘n skok wees wat moeilik gaan wees om te verwerk. Baie gaan nie weet wat gebeur het nie en die wat weet wat gebeur het sal vreesbevange wees tot op die vlak van ‘n ineenstorting. Vir ons wat geneem gaan word gaan dit die heuglikste dag van ons lewens wees, maar vir die wat gaan agterbly gaan dit die mees verskriklikste dag van hulle lewens wees…

Die verdrukking gaan ‘n tyd van absolute teenstellings wees. Die wat geneem gaan word gaan die Bruilofsfees van die Lam bywoon en feesvier terwyl die oordeel van God oor hierdie wêreld uitgegiet gaan word. Die Bybel sê vir ons dat dit die wat gaan agterbly deur die ergste tyd van die mens se geskiedenis op aarde af sal wees en as die tyd nie verkort was nie, dan sou geen mense oorleef het nie. Meer as drie kwart van die aarde se bevolking gaan in die verdrukking sterf.

Ek weet dat daar van julle is wat wonder wat ons op daardie dag kan verwag. Ek het nou onlangs ‘n getuienis gelees van ‘n Amerikaanse Leraar. Hy, sy seun en ‘n lid van sy gemeente het almal presies dieselfde droom gehad! Hy begin deur te sê dat hy iewers in ‘n oop area gestaan het. Hy kon mense agter hom hoor gesels soos by ‘n groot vergadering. Hy het opgelet hoe die sterre in die lug skielik helderder begin skyn. Hy het hom daaraan verwonder, want hy het nog nooit iets soos dit gesien nie! Die sterre het swaai patrone in die lug gemaak wat baie mooi gelyk het. Skielik het die mense agter hom begin skreeu in angs so asof daar iets vreeslik gebeur het. Hy wou baie graag terugkyk om te sien wat aangaan, maar hy kon nie. Hy kon skielik voel hoe hy gewigloos word en stadig opstyg. Hy het na die sterre wat sulke snaakse patrone gemaak het bly kyk. Die van julle wat Star Wars gekyk het sal die volgende beskrywing presies verstaan. Die oomblik wat een van daardie ruimteskepe oor gaan na ligspoed, dan maak die sterre sulke baie lang strepe soos reëndruppels op die voorruit van ‘n motor wat vinnig ry. Dis presies wat hy gesien het. Die volgende oomblik het hy oor die mooiste landskap gevlieg wat hy al ooit gesien het. Dit die groenste heuwels denkbaar met baie gras, baie bome en baie blomme. Plek-plek was daar klein dorpies. Die lug het geruik soos potpouri… Dis waar hy wakker geskrik het. Hy kan die gesig wat hy gesien het nie vergeet nie en hy kan tot vandag toe die varsheid van die lug ruik.

Vir die wat agter gaan bly, gaan daar chaos heers: duisende motor, trein en vliegtuig ongelukke soos die bestuurders van hierdie voertuie verdwyn het. Polisie, redding en verpleeg personeel gaan ‘n reuse tekort aan mannekrag ondervind omdat daar meer gereddes is in hierdie beroepe as in enige ander beroep. Dit gaan die wêreld heel moontlik ‘n paar maande neem om te herstel van die skok en om op te ruim na die tyd. Ons kan dus met sekerheid voorspel dat die verdrukking nie dadelik na die wegraping begin nie, maar eers etlike maande later.

Die Bybel is baie duidelik oor wanneer die verdrukking gaan begin en dit gaan wees wanneer die wêreld leier die vredesverdrag met Israel gaan sluit. Die beginpunt gaan wees die oomblik wat daardie verdrag onderteken word.

Liewe Leser; as jy hierdie lees en jy is nog nie gereed nie of jy weet nie of jy gered is of nie, dan wil ek saam met jou bid dat jy jou lewe in orde kry. God wil nie hê dat jy agter moet bly nie. Hy het tog immers Sy Seun vir jou geoffer sodat jy die ewige lewe kan geniet saam met Hom! (Johannes 3:16) Jy het nie nodig om saam met die sondaars wat nie wil luister nie agter te bly om die oordele van God te beleef nie. Jy is vrygekoop deur Jesus bloed! Al wat jy moet doen is om Jesus as jou verlosser te aanvaar en dis nie eers moeilik nie!

Jy weet, ek het hierdie gebed wat ek saam met jou wil bid om jou te help. As jy hierdie gebed bid en jy bedoel elke woord daarvan uit jou hart uit, dan SAL jy gered wees en sal die Engele in die Hemel verheug wees oor ‘n siel wat hom bekeer het! Dit kan ek jou waarborg!

Jesus, ek is ‘n sondige mens en ek weet dat ek daarom die ewige dood verdien. HERE, ek wil vra dat U hierdie arme sondaar genadig sal wees en hom sal red van die ewige verderf. Vergewe my skulde en my tekortkominge, HERE! Ek nooi U uit om in my hart te kom woon! My begeerte is om deel van U kudde te wees en as U gaan kom om die wat U s’n is te haal, HERE, dan wil ek ook saamgaan om vir ewig by U te Kan wees. AMEN!

Mag die HERE hierdie boodskap aan jou hart seën!