“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” (Johannes 3:16)
Dis moeilik vir ons as mense om God se liefde vir ons ten volle te verstaan. As mens verstaan ons net liefde sover as wat dit met ons liggame verbind kan word. Ons is beperk tot dit wat ons kan sien en wat ons kan aanraak, maar daar is ‘n groter liefde. Die liefde van ‘n HERE wat alles sal doen om ons uit die kloue van die ewige dood te red.
Ons verstaan ‘n liefde soos dit nie, want ons ken net voorwaardelike liefde; dit wil sê ‘n liefde wat gepaard gaan met een of ander voorwaarde soos die liefde tussen man en vrou waar beide paartjies een of ander voorwaarde daaruit kry. Maar Jesus het ons onvoorwaardelik lief. Dit maak nie saak wat jy doen of gedoen het in jou verlede nie. Jesus stel eenvoudig nie daarin belang nie. Hy stel net belang in jou en daarom wil Hy vir jou die ewige lewe gee. Hy wil hê dat jy vir Hom moet kies sodat Hy vir jou ‘n lewe van vervulling in Hom kan gee waar jy alles kan bereik wat jy nog altyd graag wou doen.
As kind het ons ‘n liedjie in die Sondagskool gesing oor die liefde van Jesus. Dis so hoog, dat jy nie daaroor kan klim nie. Dis so laag dat jy nie daaronder kan inkruip nie en dis so wyd dat jy nie daarom kan loop nie. Liewe leser, hierdie is maar net ‘n gedeelte van die liede wat die HERE vir jou voel. Jy is uit Hom gemaak en daarom is jy deel van Hom.
Die wonderlikste dag vir Jesus was die dag wat jy vir Hom gekies het. Daardie dag wat jy met jou hart bely het dat Jesus jou verlosser is en dat jy vir altyd aan Hom wil behoort. Daardie dag het Jesus se hart nog vinniger geklop vir jou, want jy het gesê dat jy Syne wil wees vir altyd en altyd! Wat ‘n dag was dit nie! Van al die keuses wat jy kon gemaak het, het jy die regte keuse gemaak! Prys die Naam van Jesus!
As jy nog twyfel en nie heeltemal seker is oor die HERE se liefde nie; weet dan dit: Vir Jesus is jy die belangrikste persoon in die wêreld. Niemand is meer belangriker as jy nie. Jesus het gekom en die proses om gered te kan word so maklik gemaak dat al wat jy moet doen is om dit te aanvaar. Daar is geen voorwaardes betrokke nie en ook geen weggesteekte klousules nie.
Jesus stel nie belang in wat in jou verlede gebeur het nie. Hy is selfs bereid om alles wat in jou verlede gebeur het onder Sy Bloed te bedek en nooit weer daaraan te dink nie. Ja, jy het reg gelees! Jesus sal NOOIT WEER aan enige van jou oortredinge dink nie! Al wat jy moet doen is om nou, net daar waar jy is vir die HERE te vra om in jou hart te kom woon en al jou skulde te vergewe. Dis so maklik!
Kom ons bid saam: Jesus, ek is ‘n sondige mens en ek weet dat ek daarom die ewige dood verdien. HERE, ek wil vra dat U hierdie arme sondaar genadig sal wees en hom sal red van die ewige verderf. Vergewe my skulde en my tekortkominge, HERE! Ek nooi U uit om in my hart te kom woon! My begeerte is om deel van U kudde te wees en as U gaan kom om die wat U s’n is te haal, HERE, dan wil ek ook saamgaan om vir ewig by U te Kan wees. AMEN!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!