Die van julle wat hierdie lees het seker almal al die HERE in julle lewens en Hom as Verlosser aanvaar, daarom weet ek dat baie van julle sal wonder oor hierdie vraag. Ek het Jesus aanvaar, so waarom sal ek die Heilige Gees nodig hê?
Dis omdat die Heilige Gees ons metgesel is. Hy is soos die HERE in Johannes 15:26 sê, die Trooster wat Ek vir julle van die Vader sal stuur. Deur die Trooster kan ons met die HERE gesels en leer ons wat die HERE van ons verlang. Deur die Trooster maak die HERE sy Wil duidelik en verduidelik Hy die Bybel aan ons. Die Trooster kommunikeer met ons. Nie deur fisiese woorde nie, maar deur gevoelens en deur idees wat by ons opkom. Kom ek verduidelik.
Ons almal wil tog so graag iets vir die HERE doen, maar ons weet nie altyd hoe nie. Ons hardloop na stilte plekke toe en ons bid en vra die HERE om Sy Wil aan ons duidelik te maak, tog sê die HERE in Sy Woord presies wat ons vir Hom moet doen in Mattheus 25:40 “Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.”
Dus, liewe Kind van die HERE; dit wat jy aan die minste van mense doen, sien die HERE raak. Daardie glas water wat jy vir iemand gegee het wat baie dors was. Daardie R50 noot wat jy vir iemand op straat gegee het omdat hy nie gehad het nie. Daardie toebroodjie wat jy wou weggooi, maar aan iemand langs die pad gegee het omdat daardie persoon honger was. Dis wat die HERE wil hê ons moet doen. Dit is Sy Wil vir ons! Dis waarom ons die Heilige Gees nodig het, want die Gees oortuig ons van die waarheid! Verstaan julle?
Ons probeer so baie keer die HERE vind deur weg te kom van alles en almal af, maar dis glad nie nodig nie. Reik net uit na die wat nie het nie en jy sal God vind! Prys die HERE!
Partykeer wil die HERE hê dat ons net gehoorsaam moet wees. Kom ek vertel julle hierdie storie.
Daar was ‘n man gewees wat die gewoonte gehad het om elke oggend op pad werk toe by ‘n sekere koffie winkel ‘n koppie koffie te gaan koop. Nadat hy sy koffie gekoop het, het hy op pad werk toe sy koffie gedrink.
Hierdie oggend het hy dit weer gedoen, maar toe hy uitstap, sien hy ‘n man wat motorfiets ry op die grond voor die winkel sit. Hy het ‘n baadjie aangehad met sy klub se logo op en hy was vol tatoeëer merke. Mens kon sien dat hy ‘n geharde man was, wat gewoond was om te baklei.
Onmiddellik het die Gees met die man begin gesels en gesê hy moet met die man op die grond praat, maar hy was bang. Die motorfiets man het rof gelyk en hy was bang vir wat hy aan hom sou doen. Hy het daarom eers verbygestap, maar die gevoel dat hy moes teruggaan en met die man moes praat, wou net nie wyk nie. Eers het hy aan allerhande verskonings gedink om nie te gaan nie. Miskien is die man nie meer daar nie, maar uit gehoorsaamheid het hy besluit om tog terug te gaan. Hy was bang; wat as die man se vriende intussen opgedaag het? Wat sal hulle nie alles aan hom doen nie, maar toe hy daar aankom, sit die man nog steeds voor die winkel in presies dieselfde posisie soos wat hy hom in gelos het.
Hy was bang en sy hart het vinnig geklop toe hy nader stap. Om ‘n wildvreemde persoon te nader is nie iets wat hy gereeld doen nie, maar dis wat die HERE wou hê hy moes doen. Hy het voor die man gaan staan en môre gesê. Die man op die grond het opgekyk en dadelik weer af gekyk sonder om te groet. Hy het begin deur te sê dat hy seker sal dink dis snaaks, maar die HERE het hom gestuur om vir hom te sê dat Jesus hom baie lief het.
Die man wat op die grond gesit het, het niks geantwoord nie. Uiteindelik het die man opgekyk en gesê: “Ek dink nie dis snaaks nie. Ek is nie ‘n gelowige man nie en ek wil nie daaroor praat nie, maar ek dink nie dit is snaaks nie.” Daarna het hy weer afgekyk.
Die man wou graag nog iets sê, maar sy verstand het toe geslaan. Hy kon aan niks dink om nog te sê nie! Hy het net omgedraai en weggestap. Agterna het hy gedink hoe dom hy was, want hy het niks gehad om terug te antwoord nie! Aan die ander kant het hy gevoel dat dit was wat die HERE wou hê hy moes doen en hy het ‘n vrede in sy hart gevoel soos wat hy nog nooit gevoel het nie.
Julle weet; dis wat die HERE baie keer wil hê ons moet doen. Partykeer moet jy voor op die wa wees en jy moet dapper wees. Baie keer gebeur dit dat die Heilige Gees iemand anders na daardie persoon lei en dan sal die persoon miskien begin dink aan wat gesê word. Jy maak partykeer net die pad van die HERE net gelyk met dit wat jy doen sodat die volgende persoon se taak makliker gaan wees.
Die HERE praat baie met ons deur Sy Gees, maar ons is baie keer bang of ons dink dat ons nie goed genoeg is nie. Agterna kan ons nooit vrede daarmee maak dat ons nie gegaan het nie. Julle weet; dis baie keer net uit gehoorsaamheid en luister na die Gees.
Prys die Naam van die HERE!