Ek het julle uitverkies

Hoe baie van julle wat hierdie lees word deur ander mense gehaat? Hoe baie van julle word deur ander mense bespot? Hoe baie van julle word elke dag uitgekryt dat julle niks kan reg doen nie?

Ek gaan vir julle vandag skryf uit persoonlike ondervinding. Op skool was ek die een met wie daar die meeste gespot was. Die ander kinders het my altyd vermy asof ek ‘n soort siekte gehad het, tog was ek nie vuil of my klere geskeer nie. Ek het verlang daarna om deur die ander aanvaar te word, maar dit het nooit gebeur nie. Ek kon dit nooit verstaan nie.

Later toe ek begin werk het, het dinge verander, maar nie ten goede nie. Die vermyding het plek gemaak vir haat, want in die grootmens wêreld word jy eenvoudig gehaat! Dis nie ‘n haat soos ek-hou-niks-van-jou-nie, dis ‘n haat wat brand met jaloesie wat mens kan aanvoel!

Ek het nog altyd gedink dat dit die kruis is wat ek maar moet dra omdat ek ‘n Christen is, maar laaste week het die Gees my oë oopgemaak en vandag wil ek dit met julle deel, want ek weet dat daar baie van julle is, net soos ek, wat wonder hieroor!

Kom ons kyk na Johannes 15:18-19 [18] As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. [19] As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”

Hierdie twee verse het my oë oopgemaak! Skielik het ek verstaan waarom al hierdie dinge met my gebeur het en waarom ek so gehaat word. As Christene is ons anders.  Die wat in die wêreld is voel dit aan en dis waarom hulle ons so haat. Omdat ons anders is en hulle nie weet waarom nie! Hulle sien die vrugte wat jy dra en dit is vrugte van sukses onder soms uiterse moeilike omstandighede en omdat jy altyd triomfeer, ongeag wat gebeur, maak dit die wat jy haat briesend!

Ek kan nie begin om vir julle te sê hoeveel rus vir my siel hierdie twee verse vir my gebring het nie. Die wete dat ons nie in die wêreld is nie, maar deur Jesus daaruit verkies is, maar alles wat ek tot nou toe deurgemaak het, die moeite werd! Ek het skielik nuwe moed om my kruis te vat en sommer daarmee te hardloop!

Ek gaan vir julle vers 21 van Johannes 15 ook wys: [21] Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.” Die wêreld haat Christene omdat hulle God nie ken nie. Hulle weet van God, maar hulle ken hom nie soos ons Hom ken nie.

Liewe leser, nou dat jy verstaan waaroor dit gaan, dra jou kruis met liefde vir Jesus! Niemand het ooit gesê dat om ‘n Christen te wees gaan maklik wees nie, maar weet dit: die beloning wag vir die wat die resies voltooi en daardie beloning gaan jou wildste drome oortref! Moet nooit moed opgee nie! Alles wat nou gebeur gaan eendag so die moeite werd wees!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 238 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .