Ek word deur jou geken

Ons is van nature so geneig tot sonde dat ons baie keer wonder hoe dit moontlik is dat Jesus ons deur dit alles nog steeds kan lief hê.

Ek het na die getuienis van ‘n man geluister wat met dieselfde probleem geworstel het. Julle sien, satan is slinks en hy probeer gedurig om ‘n wig tussen ons en Jesus in te druk. Sy gunsteling manier om dit reg te kry is om vir ons te oortuig dat ons sonde van so ‘n aard is dat Jesus ons nooit sal kan vergewe nie. Nog ‘n manier is om ons te oortuig dat Jesus so kwaad is vir ons dat Hy niks met ons te doen wil hê nie. Al twee hierdie stellings is natuurlik absolute leuens en so ver van die waarheid af as wat die ooste van dier weste is! Moet dit nooit ooit glo nie, liewe leser!

Die waarheid is dat Jesus so verlief is op elkeen van ons dat Hy nie weet hoe om dit in te hou nie. Weet julle waarom? Omdat jy vir Hom gekies het! Dis waarom! Jy het gekies om Sy Kind te wees ten spyte van alles wat die wêreld jou aangebied het. Rykdom, faam, oorvloed; alles het jy laat staan om vir Jesus te volg! Prys Sy Wonderlike Naam!

Ons het iets wat tot die engele in die Hemel nie het nie en dit is die vryheid van keuse. Ons kan die rigting wat ons wil hê ons lewens moet inslaan self kies. Elke aspek van ons lewens is daarom gebaseer op ons eie vryheid van keuse en Jesus meng glad nie in by daardie vryheid van keuse wat jy het nie. Die keuse om Jesus in jou lewe toe te laat is daarom net joune om te maak. Niemand kan daardie keuse vir jou maak nie en jy hoef dit ook nie te maak nie. Jesus staan nie met ‘n geweer of ‘n sweep langs die pad en dwing jou om vir Hom te kies nie.

Verstaan julle nou waarom die keuse om Jesus te volg so merkwaardig is? Prys Sy Naam! Want daardie keuse word geheel en al deur die vryheid van jou eie wil gemaak! Die feit dat enige iemand Jesus kies ten spyte van die feit dat ons Hom nie kan sien nie, is ‘n wonderwerk op sy eie.

Dis waarom Jesus so verlief is op jou, want jy het vir Hom gekies! Hy ken vir jou en jy word deur Hom geken! Is dit nie wonderlike nie? Die Koning van die Heelal ken vir my wat ‘n stof korreltjie onder Sy voetsole is! Hy het hierdie stof korreltjie gevat en dit die mag gegee om ‘n Kind van God genoem te kan word en Hy doen dit omdat ek Hom ken! Prys die Naam van Jesus!

Daarom, liewe leser, weet dat God jou ken by jou naam! Hy ken jou beter as wat jy jouself ken: jou goeie en jou slegte eienskappe! Hy het jou lief net soos jy is; met jou foute en al! Is Jesus nie wonderlik nie?

Moet daarom nie na satan luister nie, want dis alles net leuens! Satan is die vader van die leuen en hy sal enige iets doen om jou en Jesus uitmekaar te kry. Hy sal selfs van vuilspel gebruik maak enige iets net om daardie verhouding wat jy met Jesus het op te breek en dan later daaroor te kan spog!

Weet dat Jesus jou lief het net soos jy is! Prys Sy Naam! Jesus ken jou, want deur jou word God geken!

AMEN!

(Visited 164 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .