Fluisteringe en voorbodes van rampe

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Mag die vrede van Jesus julle harte op Hom gefokus hou en onthou dat as die HERE die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter. (Psalm 127:1)

Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie! Wees versigtig na wie julle luister en wat julle lees, want nie alles wat jy hoor of lees lei tot stigting in die HERE nie. Baie keer gebeur dit dat dit waarna jy luister of sien jou so bekommerd maak oor die toekoms dat dit die vrede wat jy in Jesus het versteur.

So kry jy ook Kinders van die HERE wat hulle skuldig maak aan die versprei van hierdie stories. Internet is vol van hierdie sogenaamde Internet Profete wat boodskappe versprei oor rampe wat gaan kom; sogenaamde bewyse wat gevind is oor massiewe groot aardbewings wat binne kort gaan plaasvind of die Rooms Katolieke Pous wat gesê het dat die kerk satan gaan aanbid; noem dit maar op! Hierdie mense bedoel seker goed, maar hulle word deur satan gebruik sonder dat hulle dit weet. Onthou, ware profete inspireer jou om die HERE te volg en om Sy vrede en Sy instruksies vir jou lewe te volg. Ware profete versprei nie vrees nie! AMEN!

Enige voorbereidings wat ons maak om onsself te beskerm teen dit wat moet gebeur, gaan alles verniet wees omdat ons die HERE nie in hierdie voorbereidings geken het nie. As jy geheel en al op Jesus vertrou, dan sal niks met jou gebeur sonder die Wil van God nie en dan sal dit ook nie vir jou nodig wees om enige voorbereidings te tref nie, want Jesus sal vir jou sorg! Die Bybel sê so!

Daar is siele wat gered moet word in hierdie laaste oomblikke en dis ons werk as Bruid van Jesus om die boodskap uit te dra. Jy hoef nie fisies die Woord te verkondig nie, maar jy kan die boodskap van Jesus uit dra deur jou manier van optree. Maar in plaas daarvan is mense besig om die heel jongste nuus brokkies te versamel en aan te stuur. Julle aandag is op selfbehoud en nie die HERE nie. Die HERE is nie gelukkig met dit nie, want Hy sal ons beskerm as ons binne Sy Wil lewe. Maar as jy besig is om jouself te beskerm, dan gaan die HERE nie inmeng nie en dit gaan jy uitvind op die harde manier, want jy vertrou nie die HERE se leiding in jou lewe nie!

Bly in die HERE en bly besig met jou opdrag soos jy dit van die HERE ontvang het en die HERE sal jou seën. Hy sal jou beskerm as slegte dinge gebeur omdat jy die Wil van die HERE doen! Verstaan julle? Die HERE is ons enigste beskerming en niks anders nie. Niks wat jy doen om jouself te beskerm gaan enige effek hê nie.

Hoe baie vals alarms was daar al op Internet versprei? Duisende! Hoeveel het waar geword? Nie een nie! Sien julle nie dat julle betower word deur sogenaamde “profetiese boodskappe” nie? Satan is besig om jou te speel soos ‘n viool! Ja, ons is in die laaste oomblikke en slegte dinge is besig om rondom ons te gebeur. Sommige daarvan is ons nie eers van bewus nie, maar deur alles het God bewys dat Hy nog steeds in beheer is! AMEN!

Hierdie boodskap is graan korrels direk uit die hand van die HERE en nie uit die hande van graan verkopers nie. Luister as jy ore het om te luister.

Ek besef dat hierdie ‘n baie sterk boodskap is, maar dit is die hele punt en die HERE wil hê hierdie boodskap moet insink. Bekeer julle van hierdie selfsugtige gewoonte om op jou eie oor die weg te wil kom. Die HERE praat met jou, so luister! Vir die van julle wat reeds op die regte pad is, het niks om te vrees nie. Weet dat Jesus baie tevrede is met julle en julle oneindig baie lief het!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën! Prys Sy Wonderlike Naam!

(Visited 216 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .