Gebed

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek het met een van ons lesers begin gesels oor gebed en toe begin die HERE vir my die belangrikheid van gebed wys.

Vandat Jesus vir Sy dissipels leer bid het in Mattheus 6:9-13 sukkel mense met die konsep van bid. Die grootste rede waarom mense sukkel om te bid is as gevolg van satan se invloed. Julle moet nou mooi lees en verstaan dat satan maar net te goed weet hoe kragtig gebed is. Hy weet ook dat gebed jou kan versterk en laastens weet hy ook dat hy kragteloos is in gebed. As satan jou aanval en jy begin bid, dan hardloop hy stert tussen die bene weg! Waarom? Omdat gebed heilig is en onheiligheid kan nie in die teenwoordigheid van heiligheid bestaan nie.

Liewe leser, jy moet weet dat satan nie dom is nie. Satan is soos ‘n wolf. Hy val nie die trop skape aan nie, hy wag geduldig vir een om af te dwaal van die trop af en as dit gebeur, dan slaan hy toe. Daarom oortuig hy jou eers dat jy nie in die oggende tyd het om te bid nie, want jy het dat so baie om te doen voor werk. Op pad werk toe moet jy op die pad konsentreer en dan is daar ook nie tyd nie. By die werk sien jy hoeveel jy het om te doen en dan is daar ook nie tyd om te bid nie. Begin julle sien hoe hy werk? Voor jy mooi weet wat aangaan, vryf iemand jou verkeerd op en net daar en dan verloor jy jou humeur en sondig jy.

Wat doen satan volgende? Hy hardloop reguit na die HERE toe en hy gaan vertel vir die HERE hoe ‘n slegte en sondige mens jy is! Dan kom hy terug en vertel vir jou hoe teleurgesteld die HERE in jou is; wat natuurlik ‘n leuen is. Jy glo dit en dan wil jy nie meer bid nie, want jy dink dat die HERE kwaad is vir jou en nie meer na jou sal luister nie. En daar wen satan! Soos hulle in Engels sê: “Game, set, match!” Nog een persoon wat minder bid!

Kom ons ruil nou die rolle om. Kom ons sê jy kom agter dat satan jou versoek en jy besluit net daar en dan om te bid. Al agtergekom hoe jy skielik baie beter voel. Die versoeking wat oor jou was is sommer skielik net weg! Dis asof dit glad nie daar was van die begin af nie. Het julle dit al ooit so ervaar? Ek het! Dis omdat gebed die heiligste vorm van kommunikasie is wat ons tot ons beskikking het. Satan is kragteloos daarteen en hy weet dit!

Liewe leser, jy het meer mag as wat jy besef en satan weet dit ook. Dis waarom hy allerhande leuens in jou ore fluister sodat jy moet vergeet dat al die mag in die Hemel tot jou beskikking is deur die Naam van Jesus! Jy kan siektes genees, finansiële probleme op los, seëninge uit die Hemel laat neer reën en nog baie meer deur gebed. Weet julle hoe baie keer net ek al gebid vir geldelike hulp? En raai wat? Ek kry dit, maar nooit meer as wat ek nodig het nie en dis belangrik om te weet!

Die HERE weet hoeveel jy nodig het en Hy ken jou omstandighede. Julle moet een ding mooi verstaan: die HERE is ‘n baie jaloerse God en Hy sal nooit toelaat dat enige iets ‘n wig tussen jou en Hom indruk nie. Dis waarom die HERE nie sal toelaat dat enige van ons skielik meer geld kry as wat ons nodig het voordat ons geloof nie sterk genoeg is om te weet wat om daarmee te maak nie. Die HERE weet maar net te doen dat as mense baie geld het voordat hulle geestelik volwasse is hulle van die Hom vergeet en Hom dan nie meer nodig het om te voorsien nie. Kyk maar na Salomo. Hy was ‘n baie ryk man, maar nooit het sy rykdom tussen Hom en God gekom nie! God was altyd nommer een in sy lewe! Verstaan julle hoe dit werk?

Sodra die HERE sien dat jy geestelik groei en dat jy sterk genoeg is om die versoekings te weerstaan, dan sal Hy toelaat dat jy meer seëninge ontvang. Soos ek al voorheen vir julle gesê het, is ons in die leerskool van die HERE. Soos jy geestelik groei, sal die HERE jou met meer vertrou en ons bedoel nou nie net geld nie. Daar is geestelike gawes wat baie meer waardevol is as geld!

Mag die HERE hierdie boodskap seen!

(Visited 410 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .