Keer terug na My

Keer terug na My

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Het u al gewonder waarom dinge vir u altyd net verkeerd gaan en waarom niks ooit wil uitwerk nie? Lees dan verder!

Die Here het al op twee geleenthede hierdie vers in Sagaria 1:3 vir my gewys: “Keer terug na My, spreek die HERE van die leërskare, en Ek sal na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare.”

Die van julle wat oud genoeg is om te onthou, sal weet hoe ‘n magtige land Suid-Afrika ‘n paar dekades gelede was. Vandag is dit ‘n skaduwee van sy vorige self… Oral waar ons kyk val alles uitmekaar uit. Wat het verkeerd gegaan? Suid-Afrika het sy God verlaat; dis wat verkeerd gegaan het. Maar ek is nie hier om politiek met julle te praat nie.

Daar is ‘n spreekwoord wat sê dat as jy die lewe wil verander, dan moet jy begin by die persoon in die spieël! En dit is die kern van my boodskap vandag: Hoe ver van die Here is u liewe kind van God? Miskien bid u van tyd tot tyd en miskien gaan u van tyd tot tyd kerk toe. U ken moontlik die Here of u het al van Hom gehoor, maar die vraag is, KEN HY VIR JOU?

Julle weet, en daar is geen twyfel by my meer nie, ons lewe in die laaste van dae. Die Here gaan binnekort kom om sy bruid te kom haal. Dit sal wees die wat waardig is om die dinge wat kom te mis. Baie sal nou vra: “Hoe kry ek myself waardig?” Deur terug te keer na die Here en Sy insettinge te onderhou, want die Woord van God sê dat as ons terugkeer na God, Hy na ons toe sal terugkeer! Ons MOET egter die eerste stap neem.

Vandag wil ek by julle smeek, nie net die wat in die wêreld is nie, maar ook die wat afgedwaal het. Keer terug na die Here en moenie langer uitstel nie. Moenie dat daardie ding wat jy in die wêreld vashou jou langer vashou nie. Ons tyd is min, baie min! Die Here staan reg om jou in sy arms toe te vou, maar jy moet die eerste stap neem. Alles wat jy verkeerd gedoen het, ongeag wat dit is; sal in ‘n oomblik vergewe word! Niks sal ooit teen jou gehou word nie. Die Here sê dat Hy jou sonde so ver soos die ooste van die weste af sal wegwerp en nooit weer daaraan sal dink nie! Daar is geen vangplek nie! Net rus en vrede vir jou siel!

Kom ons bid: “Ek wil vra, Here, dat U wie ook al hierdie boodskap gaan lees, sal seën. Ek wil vra dat u mense se harte sal oopmaak sodat hulle ontvanklik sal wees vir die waarskuwings oor U koms wat op hande is. Dat hulle hulle lewens in oënskou sal neem en dit wat nog verkeerd is sal regmaak terwyl daar nog tyd is. Ek vra dit in U Naam. Amen!”

Mag die Here hierdie boodskap seën.