Ek is seker daarvan dat julle die gedeelte in Lukas 21:25-28 baie goed ken, maar vandag het hierdie gedeelte spesiale betekenis vir ons.
“[25] En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, [26] en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. [27] En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid. [28] En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.” (Lukas 21:25-28)
Jesus begin deur vir ons te sê dat daar tekens sal wees in die son, die maan en die sterre. Dit sien ons al die afgelope paar jaar op gereelde grondslag. As dit nie die een sonsverduistering op die ander is nie, dan is dit ‘n hele reeks van maansverduisteringe en selfs bloed mane. Dan is daar ook die groot aantal asteroïede wat so naby aan die aarde verbygaan dat dit ‘n wonderwerk is dat die aarde nog nie getref is nie…
As kind onthou ek nog hoe skaars hierdie verskynsels was. Ek was ‘n jong man toe ek vir die eerste keer ‘n sonsverduistering gesien het en dit was maar net ‘n gedeeltelike sonsverduistering, nie eers ‘n volledige een nie! Ek was op hoërskool toe ek die eerste keer ‘n maansverduistering gesien het. Asteroïdes wat naby die aarde verby gegaan het, het jy net ‘n die flieks van die tyd gesien! Dit was beslis anders as vandag!
Maak enige koerant of tydskrif oop of luister net na die nuus en julle sal sien hoe baie vrees daar in die wêreld is. As dit nie uitermatige sterk storms is wat die land teister nie, dan is dit onluste. Mense is te bang om uit hulle huise te gaan en mense se harte beswyk van vrees, net soos Jesus voorspel het dit gaan gebeur!
Wat besig is om te gebeur is geen grap nie, maar Jesus se woorde het weereens waar geword: “op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun.” Die nasies is inderdaad radeloos, want hierdie lande weet nie meer wat om te doen nie. Hulle kan nie die een groep gelukkig maak terwyl die ander groep ongelukkig is nie. Die “see en branders” wat verwys na die mense dreun, want hulle is ongelukkig!
Dan kom die vertroosting soos net Jesus kan gee. “As julle hierdie dinge sien gebeur, kyk dan op, want julle verlossing is naby!” Prys die Wonderlike Naam van Jesus! Twee duisend jaar gelede het Jesus hierdie woorde gespreek en vandag sien ons dit gebeur! Is dit nie wonderlik nie? Kyk dus op, liewe leser! Ons tyd is naby!
Prys die Naam van Jesus!
