Om iemand te kan vergewe, ongeag wat daardie persoon teen jou gedoen het, is sekerlik een van die mees mooiste dinge wat ons kan doen.
In Mattheus 18:21-22 lees ons hoe Petrus na die HERE gekom het met ‘n vraag: “Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.”
Julle sien; ons word van kleins af geleer om te vergeld en om mense in eie munt terug te betaal vir dit wat hulle aan ons gedoen het. Daardie persoon moet tog immers voel, wat jy gevoel het toe jy so verneder was, dan nie, maar hier sê Jesus vir Petrus die teenoorgestelde! En dit is dat jy daardie persoon moet vergewe; sewentig maal sewe! Die van julle wat slim is, kan dit gaan uitwerk: dis tot 490 keer vir dieselfde oortreding! En as dit ‘n ander oortreding is wat nie dieselfde een is nie, dan nog 490 keer!
Julle sien; wat Jesus nie vir ons leer nie, is dat as jy iemand nie sy oortredinge vergewe nie, dan word daardie gedagtes later giftig en vergiftig dit alles binne in jou. Dis waarom dit so belangrik is om onvergewensgesindheid so gou as moontlik uit ons lewens te kry. Vergewe mense hulle oortredinge, selfs al doen hulle aanmekaar dieselfde goed, want dis wat Jesus doen as ons aanmekaar dieselfde oortredinge begaan!
Soms waarsku die HERE ons dat ons gaan oortree, net soos Hy vir Petrus in Markus 14:30 gewaarsku het: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën.” Petrus het die HERE nie geglo het nie, want sy antwoord was dat hy selfs bereid was om saam met Jesus te sterf eerder as om Hom te verraai!
Liewe lesers, om so te dink is natuurlik hoogmoed, want ons almal het voete van klei en ons almal val een of nader tyd, maak nie saak hoe gelowig of hoe sterk jy is nie. Kyk maar na Petrus: hy het saam met Jesus geloop. Hy was die rots waarop die HERE Sy kerk op aarde sou bou. Ek twyfel of ons in daardie tyd ‘n groter man van God sou gevind het as dit. Tog lees ons in Mattheus 26:69-75 hoe Petrus se ergste nagmerrie bewaarheid word: hy ontken dat hy Jesus ken met ‘n eed! Dit was eers toe die haan twee maal gekraai het dat Petrus besef het wat hy gedoen het. Petrus het uit gehardloop en bitterlik geween oor sy oortreding.
Liewe lesers, hoeveel van ons sondig nie so voor die HERE nie? Ons vra vergifnis vir ons sondes en ons onderneem voor die HERE om dit nooit, ooit weer te pleeg nie en dan, nie lank daarna nie, val ons maar net weer vir satan se leë beloftes. Die rede hiervoor is omdat ons swakker is as wat ons dink. Dis baie maklik om te oordeel deur te sê dat jy van beter moes geweet het. Satan het die vermoë om jou gewete so te sus dat jy op daardie stadium nie besef wat dit is wat jy doen nie. Dis dan ook waarom vergifnis so belangrik is dat ons mense hulle oortredinge moet vergewe, want Jesus huiwer nooit om ons eie oortredinge teen Hom te vergewe nie.
Ek weet maar net te goed dat jy soos ‘n hond voel as jy teen die HERE oortree het. ‘n Mens voel skaam en jou eerste begeerte is om weg te hardloop of om te weier om terug te gaan na Jesus toe sodat Hy jou kan genees. Dit is satan wat daardie gedagtes by jou laat opkom, want hy weet dat hoe langer jy jouself loop en skop en skuldig voel, hoe meer kan hy uit jou tap. Ek het ook al so gevoel en kyk net wat het Jesus vir my gesê.
“Dink aan My hande, My voete en aan My sy. Daardie wonde is daar gemaak vir jou. Sodat jy vry kan wees; vry van satan se beskuldigings; vry van sonde. Ek het dit vir jou gedoen, my geliefde kind. Moenie My wegstoot nie. Kom na My sodat ek jou kan genees en jou plek kan herstel soos Ek dit van die grondlegging van die wêreld af beplan het. Ek het jou lief, meer as wat jy besef!”
Liewe leser, is daar enige rede om nie vergifnis vir jou oortredinge by die HERE te gaan vra nie? Hy het vir Petrus vergewe en Hy sal vir jou ook vergewe: sewentig maal sewe per oortreding!
Prys die Naam van Jesus!