Ek het hierdie getuienis laas week gepos op ons Suiderkruis Watsapp Groep, maar die Gees wys vir my dat ek ‘n boodskap daarvan moet maak.
Ons het nege jaar gelede hierdie huis waarin ons bly gekoop. Dit was ‘n ou huis wat in die 1970’s gebou was en in die 1980’s gemoderniseer was. Die huis was in ‘n redelike goeie toestand, want die persoon wat dit voor ons gehad het, het die plek goed opgepas en laat regmaak wat stukkend is, maar dis nog steeds ‘n ou gebou.
Die voordeel van sulke ou geboue is die manier hoe hulle gebou was. Hulle het mos huise op ‘n geheel en al van ‘n ander manier gebou in daardie tyd as vandag. Boumateriaal en arbeid was goedkoop en mense kon bekostig om meer aandag aan die struktuur te gee as vandag. Die nadeel is egter dat hierdie tipe van konstruksie in die verlede behoort en as dit reggemaak moet word, dan gaan dit jou kos! In baie gevalle praat ons van geheel en al uithaal en ander insit, want parte vir dit wat reggemaak moet word, bestaan nie meer nie!
My garage deur se motor het ingegee. Dis ‘n baie ou model wat dekades lank terug dateer. Waar ‘n mense net ‘n ander motor sal koop en dan die ou een vervang, kon ek dit nie doen nie, want hierdie stelsel wat by my ingebou is, werk nog met ‘n ketting. Vandag se goed is alles elektromagneties, dus gaan ek die motor met die spore waarin die ketting loop moet uithaal en vervang met die moderne. Self het ek nie die kennis om sulke werk te doen nie, dus gaan ek iemand moet kry en die hele operasie gaan my ‘n paar duisend rand kos!
Ek spaar nou al vir etlike maande vir ‘n vakansie vir my en my vrou. Met die huidige ekonomie en alles wat so duur is, is dit geen maklike taak nie, maar jy doen jouself maar te kort om dit te kan regkry. Die herstel werk aan die garage is so te se die bedrag wat ek al gespaar het! Ek hoef dit vir niemand te sê dat iets soos dit hard aan ‘n mens se gemoed vat nie, want al jou hoop is skielik net weg! Ons is mos in Jesus se hande en as iets sleg gebeur, dan is daar mos altyd ‘n rede daarvoor, self sal sien ons dit nie raak nie. Die spreek woord sê nie verniet, die mens skik, maar God beskik nie!
Ek wou eers kwaad word en my voete stamp soos ‘n stout kind, maar toe dink ek soos Abraham gedink het toe hy aangesê was om Isak te offer. As dit is wat Jesus wil hê, dan is dit wat Jesus gaan kry. Ek het vir die man wat die werk moet doen gesê dat hy moet voortgaan, wetende dat my vakansie nou nie meer gaan plaasvind nie. Maar Jesus het ander planne gehad, wat ek nie van geweet het nie!
Dis gewoonlik wanneer dinge op sy donkerste is en jy moed wil opgee dat die wonderwerke gebeur! ‘n Soort van hou-vas-aan-jou-hoed-want-Ek-is-nog-nie-klaar-nie ding. Dan gebeur daar iets wat jy in jou wildste drome nie eers aan gedink het op gesien het kom nie en dis wat met my gebeur het.
My besigheid het skielik in seker een van die stilste tye van die jaar ‘n hele reeks verkope gekry; genoeg om die vervanging van die motor geheel en al te kan betaal met nog geld oor sonder dat ek aan my spaargeld hoef te vat! Ek weet nie wat om te sê nie! As jy dink alles is verby en jy maak vrede daarmee, dan verwag jy nie iets soos dit nie! Maar dit wys jou net om nie moed te verloor nie.
Ons almal sukkel en kry swaar op ons eie manier en ons verstaan nie altyd nie, maar Jesus verstaan en baie keer moet ons net al ons vertroue op hom sit en weet dat Hy ons nie verkeerd sal lei nie. Dis baie moeilik, want ons almal is gewoond aan die sitplek met die stuur sodat ons self kan gaan waarheen ons wil, maar nou moet ons daardie sitplek oorgee aan iemand anders met die hoop dat dinge sal uitwerk. Dis ‘n bitter pil om te sluk daardie en ek verstaan dit! Veral as dit by sulke vertroue kom.
Ons het al almal iemand in ons lewens vertrou en dan het dit uitgedraai op die grootste fout wat ons al ooit gemaak het, maar weet dit dat jy altyd op Jesus kan vertrou, selfs al kan jy Hom nie sien nie. Hy is daar en Hy is ‘n lewende werklikheid; daarvan kan ek getuig!
Prys die Naam van Jesus!