Tradisies en naaste liefde

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Tradisies het baie voordele, maar ons moet baie mooi oppas dat ons tradisies ons nie oorheers nie. ‘n Lekker ou tradisie is mos soos ‘n stel boeie wat lekker pas! Jy raak later so gewoond daaraan dat jy jou verbeel dat jy nie daarsonder kan gaan nie!

Ek al op verskeie geleenthede vir mense die makliker pad probeer wys; die pad van die Gees sonder bekommernisse; waar jy al jou vertroue in die Gees plaas. Net sodra jy die boeie van tradisie mooi van die persoon se enkels af het, dan gryp laasgenoemde die boeie terug en sê: “Gee my boeie, dis my boeie; hulle pas lekker!” Dan staan jy maar terug en wonder waar dinge so verkeerd gegaan het dat mense eerder ‘n tradisie sal volg as om die vreugde van totale vryheid in die Gees te ervaar.

In die dae van Paulus was daar ook mense met tradisies wat swaar laste op die jong Christen geloof wou plaas deur te verplig dat die mans wat die geloof aanvaar, die tradisie van besnydenis moet volg. (Handelinge 15) Paulus was baie ontsteld daaroor, want die Gees van die HERE waarborg vir ons vryheid van enige gebooie wat swaar en moeilik is om te onderhou. Die Wet van Moses was so swaar om te onderhou dat selfs die voorvaders dit nie kon regkry nie en nou wil mense dit weer instel! Daai paar boeie baie wat so lekker pas! Hulle skaaf so seer, maar ek is gewoond daaraan en ek ken dit, daarom wil ek van niks anders hoor nie!

Paulus begin deur die Galasiërs te waarsku dat hulle hulle nie onder die wet moet stel nie en dat as hulle dit doen, hulle losgemaak van Christus sal wees! Hulle sal dan verplig wees om die hele Wet van Moses te onderhou! Eina! As Christene is ons nie meer onder enige wet (tradisie) gebind nie, maar is ons vry deur die Gees en die geregtigheid waarin ons hoop. Tradisies beteken vir ‘n Kind van God niks. Dis waarom daar vir ons geen verpligting is om die bepalings van die Wet van Moses na te kom of selfs toe te pas nie, want die Gees van God is ons leidsman. Hy wys vir ons wat reg en wat verkeerd is en hoe om op te tree! Prys die Naam van Jesus!

Paulus wou so graag vir hulle die ander pad wys wat baie makliker is om te loop. Julle weet, dis moeilik om vir mense die vryheid van die Gees te verduidelik, want jy moet dit vir jouself ervaar! As jy eers eenmaal dit ervaar het, sal jy nooit weer na enige iets anders gaan soek nie, want jy gaan ‘n lewe van vryhede deur die Gees van die HERE ervaar soos niemand dit kan beskryf nie! Stel jou ‘n lewe sonder enige bekommernisse voor. Dit klink idillies, maar dit is wat die Gees van die HERE vir jou aanbied, maar dan moet jy eers van die tradisies ontslae raak.

Baie van julle is so besmet van kerk dogma, dat dit net nie snaaks is nie. Dis dieselfde kerke waar die werking van die Gees van die HERE totaal onderdruk word. Baie van julle het gawes wat die HERE vir julle gegee het, maar omdat die kerk julle verbied om die gawes te gebruik, het baie se gawes gesterf. Die HERE staan nou weer gereed om gawes uit te deel, maar jy sal dit net kan ontvang as jy in die Gees van die HERE wandel en jou naaste liewer het as jouself. (Mattheus 22:39) Naasteliefde is die sleutel tot alles!

Daarom liewe Kind van die HERE; kom ons begrawe daardie tradisies en werk aan ons naasteliefde. Jou naaste is tog almal om jou. Nie net die wat jy van hou nie. Behandel almal dieselfde, ongeag wie dit is of wat die persoon doen en kyk of die HERE nie deure vir jou sal oopmaak nie! Laat jou lig vir Jesus skyn!

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk