Ek glo die HERE is besig om ons gereed te kry vir die dag wanneer Hy gaan kom om ons te kom haal. Ek let op dat die boodskappe wat ek kry al hoe meer gesentreer word om ons gereed te kry vir daardie dag.
Ek praat al ‘n geruime tyd oor naasteliefde en vandag gaan ook gee uitsondering wees nie. In ons kerke is daar so baie ledemate wat die Woord van God van voor tot agter ken en weer van agter tot voor. Jy kan hierdie mense letterlik enige iets uit die Woord vra en hulle sal jou kan antwoord; dis hoe goed hulle is. Hulle kan in die fynste tegniese detail in gaan en jou vertel hoe, wanneer en waarom ‘n gedeelte van die Bybel geskryf is soos dit is. Hulle sal met jou stry en glad nie skaam wees om vir jou uit te Bybel uit te wys dat jy verkeerd is nie, maar die grootste struikelblok vir hierdie mense is naasteliefde, want die manier hoe jy reggehelp word is nie in die liefde van Jesus nie.
Paulus het in 1 Korintiërs 13:1-13 dit sekerlik die beste ooit gestel: “[1] Al sou ek die tale van mense en engele spreek, en ek het nie die liefde nie, dan het ek ‘n klinkende metaal of ‘n luidende simbaal geword. [2] En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit, en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. [3] En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie. [4] Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, [5] handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, [6] is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. [7] Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. [8] Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan. [9] Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. [10] Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan. [11] Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind; maar nou dat ek ‘n man is, het ek die dinge van ‘n kind afgelê. [12] Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. [13] En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.”
Al ken jy die Bybel en al die geheimenisse daarin, maar jy het nie naasteliefde nie, is jy ‘n dooie Christen! Al kan jy in al die tale van die wêreld die Naam van die HERE eer en al kan jy al hierdie tale ook uitlê, sonder naasteliefde is jy ‘n dooie Christen! Al gee jy alles wat jy besit aan die armes en jy het nie naasteliefde nie, is jy ‘n dooie Christen!
Verstaan julle wat ek sê, want dis so belangrik dat julle MOET verstaan? Naasteliefde is die as waarom alles draai. Luister nou na die Woord van die HERE en onthou! Sonder naasteliefde kan jy nie in die wegraping geneem word nie! As jy nie naasteliefde het nie; SAL jy agterbly! Die HERE het vir my baie siele gegee om te voed en ek kan julle eerlike sê; ek ys as ek dink dat daar van daar die siele is wat gaan agterbly omdat hulle nie gehoor wou gee nie.
Dit maak nie saak of jy in tale kan praat of nie. Dit maak nie saak of jy die gawe van profesie het of nie. Dit maak ook nie saak of jy mense kan genees of nie. Ongeag watter gawe jy ook al mag hê, alles sal tot niet gaan, maar naasteliefde is vir ewig en altyd!
Kyk hoe het Jesus opgetree. Hy het met vroue en met mans gesels. Hy het met sondaars gesels: selfs met tollenaars en straat vroue wat in daardie dae van die mees sondige mense in die wêreld geag te gewees het. Hy het geen onderskeid getref wie jy was of wat jy gedoen het nie. Etniese agtergrond was vir Hom van geen belang nie. Hy het daarom met Jode en met Samaritane gesels en geen onderskeid tussen hulle getref nie. Jesus het hier klaar vir ons die voorbeeld gestel. Al wat ons moet doen is om dit te volg.
As jy hierdie dinge begin verstaan, dan sal jy gereed wees vir die vaste spyse van die evangelie en sal jy ook gereed wees om die dinge van ‘n kind af te lê en tot geestelike volwassenheid te groei in die HERE.
Soos Paulus sê: die grootste drie dinge is Geloof, Hoop en Liefde, maar die grootste is die liefde; spesifiek naasteliefde.
Ek wil julle vra om asseblief alles in die stryd te werk in hierdie laaste sekondes voor middernag. Maak ‘n werklike poging om die HERE op ‘n intieme vlak te leer ken. Hy het jou so oneindig lief dat Hy vir jou die vryheid van keuse gegee het om jou eie weg te kan bepaal, maar hierdie vryheid van keuse beteken nie dat jy vry is van die gevolge van jou keuses nie.
Prys die Wonderlike Naam van Jesus!