Daar kan geen twyfel meer wees dat ons in die laaste van dae is nie.
Jesus het aan Sy dissipels gesê hoe die wêreld daarna sal uitsien net voor Hy gaan terugkom: oorloë en gerugte van oorloë (Mattheus 24:6), hongersnode, en pessiektes en aardbewings (Mattheus 24:7). Maar Jesus sê ook dat hierdie maar net die begin is.
Kyk maar net in die wêreld om jou, liewe leser. Oorlog is op die rand om uit te breek in die Midde Ooste en dis maar net ‘n druppel in die emmer, want op verskeie ander plekke is daar al vir jare oorloë sonder einde aan die gang. Hongersnood is deesdae so algemeen dat dit nie meer in enige nuus berigte genoem word nie. Dieselfde met pessiektes en aardbewings. Dis net die mees nuuswaardige gevalle van pessiektes en aardbewings wat die nuus haal! Meer as 90% van alle gevalle word nooit genoem nie.
Daar is diegene wat sal sê dat daar al vir honderde jare oorloë, hongersnode, pessiektes en aardbewings was en dat dit niks bewys nie. Dis korrek, maar deesdae gebeur al hierdie dinge gelyk en dit word net erger! Iets is iewers aan die gebeur en net iemand wat nie die waarheid wil sien nie, sal maak of dit normaal is!
Jesus sê dat omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel (Mattheus 24:12). Het julle al opgelet dat mense nie meer geduld met mekaar het nie? As enige iemand iets goed aan iemand anders doen, dan dink die mense dat daar iets met daardie persoon skort. Ek het dit al ‘n paar keer oorgekom en dan kyk mense jou aan en jy kan sommer op hulle gesigte sien hulle wonder wat jy wil hê!
Jesus sê ook dat ten spyte van al die swaarkry wat ons sal beleef, ons verseker kan weet dat Hy SAL kom, maar eers moet ons en die Evangelie vir die hele wêreld ‘n getuienis wees. (Mattheus 24:14) Hierdie getuienis gaan bly voortleef nadat ons nie meer op Aarde is nie en hierdie getuienis gaan al wees wat baie gaan hê om aan vas te klou in die donkerste dae van hierdie aarde.
Daarom, liewe leser, Jesus weet hoe swaar baie van julle kry en Hy weet maar net te doen die omstandighede in elkeen se lewe. Al wat ek kan sê is; hou uit, want jou verlossing is naby!
In 1 Tessalonisense 4:18 sê Paulus dat ons mekaar moet bemoedig met hierdie woorde! Jesus GAAN kom! Vir ons gaan dit die wonderlikste dag van ons lewens wees om vir altyd saam met Jesus te wees, maar vir die wat gaan agterbly, gaan dit die mees vreesaanjaendste tyd wees wat hierdie wêreld nog ooit beleef het!
Jy hoef jou egter nie daaroor te bekommer nie, want Jesus sal sorg vir die wat gaan agterbly. Hierdie tyd in die mens se geskiedenis moet gebeur omdat almal nie teen dieselfde spoed leer nie. Ongelukkig is daar mense wat nog nie geleer het dat die feit dat ons die vryheid van keuse het, nie beteken dat ons vry is van die gevolge van ons keuses nie.
Daarom liewe lesers, wees soos een wat op ‘n baan hardloop om ‘n prys te ontvang! Verkondig die evangelie soos een wat dit wil doen en moenie ophou daarmee nie! Slaan soos een wat met sy vuiste slaan, maar moenie wees soos een wat in die lug slaan nie! Sit al jou vertroue op Jesus en jy sal die onverwelklike kroon ontvang! Prys die Naam van Jesus!
Moet dus nie omkyk nie, liewe leser. Hou jou oë op Jesus en bemoedig mekaar dat die tyd amper om is!
Mag die HERE hierdie boodskap aan baie harte seën!