Ek vind dit uiters teleurstellend: ons tyd is so min en tog gaan die wêreld aan asof daar nooit ‘n einde gaan kom nie…
Ek het vanoggend Lukas 12:35-48 gekry en die boodskap was nog nooit so duidelik nie! “En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.” (Lukas 12:36)
Hoe baie Kinders van Jesus is vas aan die slaap? Hoeveel is daar wat dink dat hulle nog baie tyd het? Hier sê Jesus vir ons wat wil hoor dat ons tyd min is en dat ons gereed moet wees vir Hom, want Hy GAAN kom! Prys Sy Naam!
Moet nie bang wees vir die oordele wat tans oor die aarde woed nie! Daardie oordele is nie vir ons bedoel nie, maar wees eerder bly as jy dit sien, want dis hoe jy weet dat die tyd naby is! Eer aan die Koning!
“Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien.” (Lukas 12:37)
Welgeluksalig is julle wat wakker gaan wees as Jesus gaan kom, maar meer die wat gewaak het tot die einde toe en hulle Bruilofskleed skoon gehou het van wêreldse besoedeling!
As die huis eienaar geweet het in watter uur die dief sou inbreek, sou hy voorsorg getref het teen die inbraak, maar hy weet dit nie. Net so weet ons nie presies wanneer Jesus gaan verskyn nie. Daar is profesie en ons hoop dat dit waar gaan word, maar onthou dat Jesus se tyd nie ons tyd is nie. Net so is Jesus se weë nie ons weë nie en is daar geen waarborg nie!
Jesus gaan kom op ‘n uur wat niemand dit gaan verwag nie. Nie ons as Kinders van God nie en ook nie die wêreld nie. Gelukkig gaan daardie dienskneg wees vir wie Jesus so besig sal vind as Hy gaan kom, want jy sal oor baie aangestel word! Prys die Naam van Jesus!
“Wie is dan die getroue en verstandige bestuurder wat die heer oor sy diensvolk sal aanstel om hulle rantsoen op tyd te gee?” (Lukas 12:42)
Hierdie vers is bedoel vir die leraars en ek sluit myself by julle in, want die swaard van die HERE sny albei kante toe. Dit wat ek hier verkondig is net so op toepassing vir my wat dit sê as vir julle wat dit hoor. Die verskil is net dat ek as leraar ‘n groter straf gaan ontvang as ek dit nie toepas nie, omdat ek geweet het daarvan.
Deel daardie rantsoene wat jy van die HERE ontvang met verstand uit en pas dit op jouself ook toe, want ons is almal Kinders van die Een Lewendige God!
“Maar as daardie dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom, en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan, en begin eet en drink en dronk word, dan sal die heer van daardie dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie, en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie, en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot maak van die ontroues.” (Lukas 12:45-46)
Nie een van ons gaan ooit 100% sonder sonde wees nie, maar ons kan ons weerhou. Ons is almal mense met verstand en ons het almal die vryheid van keuse. As jy weet dat drank jou laat sondig, vermy dit dan. As jy weet dat pornografie jou laat sondig, vermy dit dan! Hierdie is die dinge waaroor ons beheer het. Jesus het vir ons die vryheid van keuse gegee om self hieroor te kan besluit!
“En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word;” (Lukas 12:47)
Moenie talm om hierdie dinge te doen nie, want as jy verkeerd doen en jy weet dit is verkeerd, gaan jy die straf wat jou toekom verdien. Jesus sê dat jy moet baie slae geslaan sal word, omdat jy verkeerd gedoen het terwyl jy geweet het dit is verkeerd! Op soortgelyke wyse sal jy met min slae geslaan word as jy verkeerd doen sonder dat jy dit besef het, selfs al verdien jy om met baie slae geslaan te word!
Moenie dink dat daar tyd gaan wees om op die laaste minuut vinnig te bid en dan vergifnis te ontvang vir dit wat jy doelbewus verkeerd doen nie. Daardie tyd gaan jou nie gegun word nie, want jy gaan nie weet wanneer Jesus gaan kom nie. Maak nou reg terwyl jy die tyd het voor jy met baie slae geslaan word!
Liewe lesers, ek kry die gevoel dat Jesus gereed is om te kom om Sy Bruid te kom haal. Ek kry die gevoel dat hierdie boodskap ‘n noodkreet is veral vir die duisende Kinders van God wat dink dat hulle nog baie tyd het, maar meer vir die wat draad sit en dink dat daar tyd gaan wees om op die laaste sekonde ‘n kampie te kies. Ek het nuus vir jou as jy so dink… As jy nie nou gereed is nie, dan gaan jy nie gereed wees nie!
Sorg daarom om jou te weerhou van sonde sover as wat jy kan. Versoekinge gaan daar wees, want dis wat satan doen en hy het die mag om dit te kan doen. Soos ek vir julle gesê het; ons het die vryheid van keuse en daarom kan ons kies na wie ons wil luister. Maak dus die regte keuse!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
Baie dankies vir die Wonderlike en geseënde Boodskappe! God se rykste seën aan u.