Baie gelowiges wonder of hulle deur die Heilige Gees gelei word, maar die antwoord lê in hoeveel beheer jy vir die Gees van die HERE oor jou lewe gee.
In Romeine 12:1 sê Paulus dat ons lewende offers vir die Here moet wees, met ander woorde, ons moet onsself oopstel om deur die Gees gelei te word, maar die probleem is dat hierdie lewende offers gereeld van die altaar afklim en wegloop om hulle eie ding te gaan doen! Maar Jesus is goed en Hy is baie geduldig met ons.
Hierdie week het die Here vir my iets gewys wat my laat stilstaan het. Hy doen dit so elke nou en dan en ek noem dit ‘n “ah-ha” oomblik! Omdat ek die Woord van God bedien, is satan se aanvalle in my lewe baie meer doelgerig. Dis te verstaanbaar, want ek is tog immers een die grootste dorings in sy vlees want ek leer ander hoe om op die regte pad te bly!
Uit my eie het ek al verskeie kere probeer om satan uit te hou. Partykeer slaag ek, maar in die meeste gevalle vaal ek want natuurlik tot groot ontsteltenis lei aan my kant. Soos almal van ons probeer ek om my kleed skoon hou te hou as wat ek kan vir die dag wat Jesus ons gaan kom haal. Die Here wys toe vir my die gelykenis in Mattheus 6:25-32, waar Hy vir sy dissipels vra waarom hulle hulleself so bekommer oor alles. Dit het my skielik laat besef dat die leiding van die Heilige Gees eintlik so maklik is! Om die waarheid te sê, dis té maklik!
Ons wil graag hê die Here moet ons lei op allerhande vlakke van ons lewens, maar ons wil nie beheer van daardie gedeeltes van ons lewens afstaan aan die Here om ons te lei nie! Julle moet onthou dat die Gees van God ‘n ware heer is. Hy sal net doen wat ons hom toelaat in ons lewens om te mag doen. As ons aanmekaar sekere dele van ons lewens weghou van God se leiding, dan gaan die Here ons nie op daardie gebiede lei nie. Hy sal dan net ‘n metgesel saam met ons wees, maar dit is dit.
Weet julle wat het ek geleer? Ek probeer te hard om op my eie teen satan te baklei en ek probeer te hard om op my eie my kleed vir Jesus skoon te hou. Jesus weet wat ek probeer doen en Hy staan gereed om my te help veg, maar ek moet Hom toelaat om dit te doen. Die idee is nie om die oorlog op jou eie te probeer wen nie, maar om eerder te maak soos die Bybel vir ons sê om te doen en dit is om skuiling by die Koning te kom soek. Daar sal ek veilig wees en satan sal nie by my kan uitkom nie! Maar ons probeer eerder op ons eie en dis dan wanneer ons vaal!
Ons het nie nodig om ons oor enige iets te bekommer nie. Ons het nie nodig om enige iets aan God te probeer bewys nie. As daar iets in jou lewe is waarmee jy nie gelukkig is nie, los dit in die Hande van die Here. Hy sal dit op Sy tyd uit jou lewe verwyder. Ek kan getuig hiervan, want ek het sonde in my lewe gehad wat ek nooit gedink het ek ooit van ontslae sou raak nie, maar vandag, prys die Here, is ek ontslae daarvan! Dit het natuurlik op God se tyd gebeur en nie op myne nie!
Liewe leser, die Here staan gereed om jou te help met wat ook al probleem jy het. Al wat jy moet doen is om die probleem by die Here te los en te vergeet daarvan. Moet dit asseblief nie binne ‘n dag of twee weer gaan terugvra nie! Net een persoon kan op ‘n slag aan ‘n probleem werk. Dis of ons of die Here, maar nie albei nie. Los jou probleme by die voete van Jesus en kyk wat Hy vir jou sal doen!
Mag die Here hierdie boodskap seën!