Maak jou klaar om jou God te ontmoet

Hy wat die berge formeer en die wind skep en aan die mens sy gedagte bekend maak, HERE, God van die leërskare, is sy Naam!” (Amos 4:13)

Die afgelope week kry ek gereeld hierdie boodskap met my oggend Godsdiens. Ek het al so baie hieroor geskryf dat ek gewonder het of ek dit weer moet doen, maar die HERE het aangehou om vir my hierdie boodskap te gee… Prys Sy Naam!

Vir baie is hierdie ‘n verskriklike tyd om in te leef. Die pryse van alles word al hoe duurder en baie sukkel om ‘n bestaan te kan maak. Nog meer sit in ‘n finansiële krisis. Natuurrampe kom voor op ‘n skaal soos wat soos wat nog nooit voorheen gesien was nie; ook hier in Suid Afrika! Dis asof die wêreld mal geword het!

Maar so verskriklik soos al hierdie goed is, het ons as Kinders van die HERE een ding geleer en dit is om geheel en al op Jesus te vertrou selfs al is dit hoe moeilik! Ek het ook! Deesdae doen ek niks sonder ek eers met Jesus daaroor gepraat het nie en Jesus vir my gesê het dat dit reg is nie! Jesus wil deel van jou lewe wees, liewe leser. Hy wil nie daardie persoon wees na wie jy toe hardloop in die oggend of die aand voor jy gaan slaap nie. Hy wil in jou lewe wees; deel van jou lewe in elke opsig! Prys Sy Naam! Gee vir Hom daardie geleentheid en jy sal sien hoe vooruitstrewend jy gaan wees ten spyte van al die rampe!

Verstaan ook, liewe leser dat ons tyd om is… God die Vader het in hierdie afgelope jaar alles in Sy vermoë gedoen om ons na Hom toe te laat terugkeer. Al hierdie plae, die peste en die teenspoed was toegelaat om te gebeur sodat ons gehoor moet gee… Hy het die reën teruggehou, Hy het allerhande plae gestuur, Hy het die pes gestuur, Hy het hierdie land omgedolwe soos wat Hy Sodom en Gemorra omgekeer het, maar nog steeds wou Suid Afrika hom nie bekeer nie…

Nou bly daar net een ding oor om te doen en daarom sê die HERE die God van die leërskare, die formeerder van die berge en die wind: MAAK JOU KLAAR OM JOU GOD TE ONTMOET!

(Visited 457 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .