Moenie dat satan jou vreugde steel nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Ons leef in moeilike tye en dis ‘n feit en as gevolg daarvan is satan daarop uit om ons vreugde te steel!

Hierdie nuwe jaar het sommer begin met ‘n klomp dinge wat gelyk verkeerd geloop het. Sommige van hierdie dinge het ons oorgedra van die vorige jaar af. Dis van munisipale dienste tot regerings instansies wat so verswak het dat die werk nie meer gedoen kan word nie of wat geheel en al opgehou het om te funksioneer. Almal blameer almal en dis baie moeilik om nie opgesweep te word in die emosie nie.

Wat ons nie raak sien nie, is dat alles wat nou gebeur deel is van God se plan. Onthou dat ons in die seisoen van die wegraping is. Jesus het vir ons gesê in Mattheus 24:36 dat ons die dag en die uur nie sal weet nie en Hy het ook in Mattheus 24:33 gesê dat as ons hierdie dinge sien gebeur, dat die tyd naby is; voor die deur! Ons is daar, want ons kan dit sien!

Alles is klaar in plek! Die een wêreld regering is gereed, die een wêreld geldstelsel is in plek en so ook die een wêreld geloof. Die media is vol van hierdie dinge. Waar dit voorheen weggesteek was en in die geheim gedoen was, word niks meer weggesteek nie. Gaan doen ‘n soek op Internet vir “one world religion” en julle sal verbaas wees wat jy alles kry!

Ons is baie beslis in die seisoen, maar die wêreld is blind! Hulle kyk en kyk en met die ore hoor hulle, maar hulle sien nie en hulle verstaan nie. Presies soos Jesus voorspel het in Mattheus 24:39! Ek hou daarvan om te sien hoe die Woord van God Waarheid word! Prys Sy Ewige Naam!

Sien dit wat nou gebeur as voorbereiding. Net soos ons besig is om gereed te maak vir Jesus se koms, net so maak die wêreld gereed vir die koms van die Antichris. Die verskil is net dat ons weet waarvoor ons gereed maak, maar die wêreld weet nie. Ek kan julle waarborg dat as hierdie man in beheer is, hy al Suid Afrika se probleme binne 24 uur gaan oplos en almal gaan verbaas agter hom aanhardloop!

Moet daarom nie dat satan jou vreugde steel nie. Hy sal, want hy is ‘n dief en ‘n skelm! Ons tyd is naby; baie baie naby! Hou vas daaraan met al twee hande! Moenie bekommerd wees oor niks nie. Laat môre hom oor sy eie dinge kwel! (Mattheus 6:34) Laat jou hoop nie wees op dit wat voor jou is nie maar op die Een wat op pad is!

Mense gaan dink jy is van lotjie getik as jy nie bekommerd is oor dit wat om jou aangaan nie. Hulle gaan sê dat jy mal is, maar ons almal weet wat die waarheid is! Moenie bekommerd wees oor wat die wêreld dink of sê nie. Wees eerder bekommerd oor wat Jesus dink!

Ek gaan afsluit met ‘n getuienis wat iemand op een van ons groepe gepos het. Dis die getuienis van ‘n vrou wat ‘n wegraping droom gehad het. Sy sê dat sy langs die pad gestap het toe sy die basuin hoor blaas! Sy sê dit was die hardste geluid wat sy nog ooit gehoor het, maar sy het nie tyd gehad om haar daaroor te verwonder nie. Die volgende oomblik was dit asof sy in die lug opgesuig word. Sy kon voel hoe die wind om haar waai soos wanneer jy jou kop by ‘n motor se venster uitsteek as dit ry en daarna was sy op die wolke saam met Jesus. Van die tyd wat die basuin geblaas het en sy gevat is, was letterlik ‘n breukdeel van ‘n sekonde; net soos die Bybel voorspel het in 1 Korintiërs 15:52. Sy voeg ook by dat sy verbaas was om te sien hoe min mense daar was op die wolke saam met Jesus. Haar opdrag was om om aan mense te gaan vertel dat hulle gereed moet maak!

Liewe lesers, moenie opgesweep word in die emosies nie. Laat die wêreld hom bekommer oor wêreld se dinge. Ons sal ons bekommer oor Hemelse dinge!

Prys die Heilige Naam van die HERE!

(Visited 310 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .