Wanneer gaan Jesus kom?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Dis die vraag wat almal van ons vra, want ons hoop en glo op die heerlike verskyning van ons Verlosser en Heiland!

Iemand het ‘n prentjie op ons Suider Kruis Groep gepos van ‘n pa en ‘n seun wat bymekaar sit. Die seun vra toe wanneer Jesus gaan kom. Die pa antwoord dat hy nie weet nie, want ons is nie op die Beplannings Komitee nie, maar op die Verwelkomings Komitee.

Ek moet erken dat ek lanklaas ‘n boodskap so waar gesien het! Ons almal, myself ingesluit, kyk in die lug op na wanneer ons hoop gaan verskyn! Ons almal wens om op die beplannings komitee te kan wees sodat ons kan weet wanneer Jesus gaan kom! Mense maak allerhande voorspellings gebaseer op sterrekundige waarnemings en wiskundige berekeninge, maar hulle vergeet dat die wysheid van die mens, dwaasheid voor God is. Hulle vergeet ook Jesus se woorde, dat niemand die dag en die uur sal weet nie, behalwe die Vader alleen.

Self kan ek nie te hard praat nie, want twee keer was ek absoluut seker dat Jesus voor ‘n spesifieke tyd gaan kom. Die eerste keer was in 2012 en die tweede keer was laas jaar in 2022. Maar ek was verkeerd en ek is bly dat ek was, want dit het my geleer om op God te vertrou en nie op mense en hulle voorspellings nie.

Ons as Kinders van die HERE is snaakse goed. Ons is so behep met die wegraping dat ons op die dakke van ons huise gaan sit met ons oë op die hemel gerig. Ons hou op met lewe en ons trek terug in ons eie gedagtes in. Dis wat Jesus nie wil hê nie, want die oes is groot en die arbeiders min. Elke persoon wat op die dak van sy huis gaan sit is een minder wat die werk kan doen.

Jesus het gesê dat ons die lig van die wêreld is en dat ‘n mens nie ‘n lamp aansteek en dit onder die bed sit nie. Moet daarom nie op jou huis se dak gaan sit en maak of die wêreld nie bestaan nie. Ons is die sout van die aarde en ons moet aanhou sout! As ons dit nie doen nie, dan gaan die sout laf word en dan kan ‘n mens niks meer daarmee doen as om dit buite uit te gooi sodat dit deur die mense vertrap kan word nie.

Ons is in die wêreld, maar nie van die wêreld nie! Moenie jouself isoleer nie, want dan kan jy die Wil van die Vader nie uitvoer nie. Ja, Jesus vertoef om te kom en die rede is omdat die redding van siele vir Hom meer belangrik is. As daar ‘n siel is wat moontlik nog gereed kan word voor die wegraping plaasvind, dan gaan dit eerste gebeur!

Persoonlik is ek maar net te bly dat ons nog tyd het. Tyd om ons lewens reg te kry, tyd om Jesus beter te leer ken en tyd om as voorbeeld te dien vir die om ons. Onthou dat as ons eers weg is, gaan die voorbeeld wat ons gelos het al wees waaraan die wat agterbly gaan kan vas klou. Maak dit daarom ‘n goeie voorbeeld!

Mag die HERE hierdie boodskap seen!

(Visited 220 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .