Moenie voor die tyd oordeel nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Hierdie boodskap is meer vir myself, dit weet ek, maar ek wil dit vir julle ook bring, want ek kan sien dat dit op ander ook van toepassing is.

My Bybel het oopgeslaan by 1 Korintiërs 4:1-5 en ek gaan dit nou hier aanhaal vir julle: [1] So moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God. [2] En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word. [3] Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur ‘n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie, [4]  want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here. [5]  Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.”

As dienaars van die Een Ware Lewende HERE, is dit ons absolute plig om te sorg dat ons getrou is in die dinge van die HERE! AMEN! Moenie die dinge van die HERE afskeep nie! Moenie ophou om jou Bybel te lees of te bid nie en moenie ophou om vir Jesus dankie te sê vir alles wat jy ontvang nie. Jy mag hier op aarde uit die hand van ‘n mens ontvang, maar as die Wil van die Vader nie daarin was nie, dan sou jy dit nooit ontvang het nie! Prys Sy Naam!

Moenie jou bekommer oor wat mense sê of dink nie, want Paulus sê dat hierdie tipe van oordeel van geen waarde is nie. Moet ook nie jouself oordeel nie, en daardie een is vir my, want ek raak kwaad vir myself as ek so maklik vir satan se praatjies val. Ek weet daar is van julle wat dit ook doen, daarom noem ek dit! Laat Jesus jou oordeel en vergeet van wat mense dink.

Moet julle ook nie oordeel nie. Laat alle oordeel oor aan Jesus, want as Hy kom, gaan Hy dit wat verborge en in die duisternis was in ons lewens aan die lig bring. Baie van ons gaan verbaas wees oor die duistere harte van die wat ons aanhang, maar Jesus gaan ook die bedoelinge van die hart openbaar. Soos ek al voorheen gesê het, jy mag miskien op baie gebiede vaal, maar die bedoeling van jou hart is wat tel! Prys die Naam van die HERE!

Paulus gaan voort deur te sê dat elkeen dan sy prys gaan ontvang! Wat ‘n dag gaan dit nie wees nie, liewe leser! Om finaal en vir altyd ontslae te wees van die las van sonde! Om nooit weer daaraan herinner te word nie… Ek kan nie wag nie en ek weet daar van julle is wat sal saamstem! AMEN!

Tot daardie dag kom, wees getrou aan die dinge van die HERE. Wees versigtig vir satan. Probeer om nie te sondig nie en as jy doen, moenie skaam wees om vergifnis te gaan vra nie. Jesus is nie kwaad of teleurgesteld in jou nie. Dis ‘n leuen van satan daardie en die doel is om jou te weerhou om vergifnis te gaan vra! Moenie jouself skop of slaan as jy gefouteer het nie. Onthou, hier op aarde is ons in die leerskool van Jesus. Jy is veronderstel om foute te maak sodat jy kan leer daaruit. Vat daarom jou foute as geleenthede om te leer.

Mag die HERE elkeen van julle seën en styf teen Hom vasdruk. Jesus is baie lief vir jou, selfs met jou foute en al en Hy sal jou op geen ander manier wil hê nie. Laat Hom toe om te werk in jou lewe. Onthou, jy is baie meer kosbaar as wat jy nou besef. Die goeie oorskry die slegte by verre, maar jy sien dit nie nou raak nie. Binnekort sal jy, maar tot daardie dag, hou vas met alles wat jy het.

Prys die Wonderlike Naam van Jesus!

(Visited 154 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .