Neem jou kruis op!

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek wil eintlik Bybel Studie met julle doen, maar twee keer het my Bybel oopgeslaan by presies dieselfde gedeelte. Hierdie kan nie net toeval wees nie. Hierdie is ‘n boodskap wat ek vir iemand moet bring.

In Markus 8:34 sê Jesus: “Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”

Ek is een van hulle… Ek het al op verskeie geleentheid as dinge net nie wil uitwerk nie, by die HERE gemurmureer en gevra: “Waarom, HERE?” Ek weet dat baie van julle wat hierdie lees van presies dieselfde ding sal kan getuig. Dis in ons natuur om te bevraagteken wat ons nie verstaan nie, maar die HERE vra dat ons Hom moet vertrou. Vertrou dat Hy weet wat Hy doen; selfs al sien ons net ‘n donker gapende afgrond voor ons.

Raak stil voor die HERE en hou op om te vra waarom. Neem jou kruis, sit dit op jou skouer en dra dit met waardigheid! Ek weet nie wat jou probleem is nie, liewe leser, maar weet dat die HERE van jou probleem bewus is en dat Hy besig is om daaraan te werk! Onthou dat ons baie meer werd is as baie mossies en dat al die hare op jou hoof getel is. Die HERE sal nie toelaat dat enige iets met jou gebeur sonder Sy uitdruklike toestemming nie en selfs al laat Hy wat ook al toe, dan is daar ‘n rede daarvoor!

Ek het bevestiging gekry dat die HERE binnekort gaan kom om Sy kinders te kom haal. As daar enige iets is wat jy nog vir die HERE wil doen, dan moet jy dit gou doen. Moenie meer uitstel nie. Hy gaan kom om die wat Syne is te kom haal. As jy nog nie gered is nie of as jy terug geval het in die wêreld, maak dit nou reg. Moenie uitstel nie! Vir die wat gereed is, kyk op na die Hemel, want jou verlossing is naby!

Vertrou op die HERE met alles wat jy het! Plaas Hom eerste in alles. Moet niks aanpak sonder die HERE nie en as dinge nie uitwerk soos wil jy dit wil hê nie; vertrou dat die HERE weet waarom. Vat jou kruis en dra dit met waardigheid want binnekort gaan die HERE daardie kruis van jou af wegneem en dan gaan jy dit nooit weer hoef te dra nie!

Prys die wonderlike Naam van Jesus!

(Visited 218 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .