Waarom kry ek so swaar?

Hierdie is ‘n vraag wat elkeen van ons al gevra het, maar ons vergeet dat ons in Jesus die Wynstok geplant is en nou word ons as lote van die wynstok van tyd tot tyd gesnoei.

In Johannes 15 bevestig Jesus dit deur die volgende te sê: [1]  Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. [2]  Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. [3]  Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het. [4]  Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. [5]  Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.”

Hierdie skoonmaak proses sodat ons meer vrug kan dra is ‘n pynlike proses, maar dis nie altyd iets wat ons verkeerd gedoen het nie. Jesus gebruik ons ook om die Wil van die Vader te volbring, maar ons verstaan dit nie of Hy wil ons beskerm teen onsself.

Wie van julle het al werk toe gery en dan elke robot wat jy moet oorgaan rooi gekry? Jy is haastig en jy wil by die werk kom, maar elke robot is teen jou. Dit het al met my gebeur en dan is dit as gevolg van ‘n ongeluk wat letterlik sekondes voor ek daar gekom het plaasgevind het. As die robotte groen was soos wat ek dit wou gehad het, dan sou dit ek gewees het wat in die ongeluk was! Verstaan julle? Baie van ons vra elke oggend in ons oggend gebed dat Jesus ons moet beskerm en dis hoe Jesus dit doen.

Baie mense dink dat omdat hulle swaar kry, dat God kwaad is vir hulle of hulle wil terugkry op een of ander manier. Hierdie is ‘n LEUEN, liewe leser! Moenie daarna luister nie! God is nie ‘n wraaksugtig God nie! Hy sal wel sekere dinge oor jou lewe stuur, maar vir jou om te leer en nie om jou terug te kry nie. So het ek een slag amper bankrot gespeel en die doel was vir my om te leer om God te vertrou eerder as geld. Verstaan julle wat ek bedoel? As jy dus swaarkry, kyk eerste of daar nie iets in jou lewe is wat reggemaak moet word nie. Indien dit nie dit is nie, kyk dan of God jou nie wil gebruik om ‘n verandering in iemand anders se lewe te maak nie.

‘n Sekere boer se dogtertjie het vreeslik siek geword en die dokters kon niks vir haar doen nie. Hulle het regoor die land gevlieg en elke dokter in die veld van hierdie siekte gaan sien om hulp. Hy het later alles verkoop wat hy besit het om die rekeninge te kan betaal, maar niks het gewerk nie. Einde ten laaste het die dogtertjie in die hospitaal beland waar sy ‘n ander kind en die se vader ontmoet het. Sy het hulle van Jesus vertel en so hulle siele gered. Daarna is sy genees en het Jesus alles wat die familie verloor het teruggegee.

Julle moet verstaan dat die red van siele vir Jesus belangriker is as enige iets anders. Ons vra baie keer vir Jesus om ons te gebruik of ons te stuur om Sy werk te gaan doen en as dit gebeur, dan wil ons kla daaroor, want ons gemaklike lewe is dan in gedrang. Luister na die leiding van die Gees, liewe leser, want die Gees sal alles aan jou openbaar!

Nêrens in die Bybel belowe die Here vir ons as Christene ‘n lekker gemaksugtige lewe nie. U moet onthou dat ons as geredde Christene nie meer van die wêreld is nie. In Johannes 15:19 sê Jesus vir ons: “As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.”

Met laasgenoemde vers ingedagte; verstaan julle nou waarom mense wat julle nie eers ken nie, julle haat? Ek gaan vir julle uit persoonlike ondervinding skryf. Iemand het eenslag vir my gesê dat die rede waarom sommige mense ongemaklik in jou geselskap voel of nie van jou hou nie, is omdat die Gees van die HERE wat in jou is, die demone binne in hulle ontstel! Sjoe! Dis nou een van daardie “ah-ha” oomblikke waar alles skielik vir jou sin maak!

Ons almal wil graag perfek wees soos die HERE perfek was in alles, maar glo my liewe leser, jy sal dit nooit wees nie. Daarvoor is jy net te swak, maar saam met Jesus kan jy perfek wees in jou bedoeling; en dit is wat die meeste tel! Kom ek bewys dit vir julle!

Paulus was sekerlik een van die grootste dienaars van die HERE ooit! Sy sendbriewe aan die eerste gemeentes vorm tog die basis van die Nuwe Testament en tot hy het erken hoe swak hy is totdat die HERE vir hom in 2 Korintiërs 12:9 gesê het: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Prys die Naam van Jesus!

Moet dus nie skaam wees oor jou swakheid nie, Kind van God! Roem daarin, want daardeur word die Krag van God geopenbaar! Ons sal nooit perfek wees nie, maar ons bedoelings kan perfek wees. Boonop, as ons perfek was, waardeur sou die lig van die HERE dan skyn om die wêreld te verlig?

Ek gaan afsluit deur te sê dat as Christene baklei ons teen satan, ons eie menslike wil en ‘n wêreld wat nie verstaan nie. Maklik is dit nie, maar die beloning vir die wat volhard gaan groot wees! Jesus sê in Lukas 14:27: “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.” Dus, liewe leser, dra jou kruis met trots, leer uit jou foute en wees geduldig met dit wat nie verstaan nie!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 544 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .