Satan se Kastele

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Die Gees het een aand tot my gespreek en gesê dat ons nooit perfek sal wees nie, maak nie saak wat ons doen nie. Eers het ek gewonder waarom ons dan probeer as ons nooit perfek gaan wees nie, toe die Gees herhaal: “Julle sal nooit perfek wees sonder Jesus nie!”

Skielik was dit soos ‘n gordyn wat opgegaan het! As Kinders van God moet ons voortdurend onsself reinig en waardig hou, maar iets wat ek opgelet het is dat niemand vir jou sê hoe om dit te doen nie! Ons almal wil hê dat Jesus ‘n soort van tower staffie oor ons lewens moet swaai om alles wat sleg is in een oogopslag weg te vat. Ja, Hy kan dit doen, maar as Hy sou, wat sal ons dan daaruit geleer? Absoluut niks!

Slegte gewoontes en sonde is iets wat mens oor ‘n leeftyd versamel en daar is geen manier op aarde wat jy hierdie slegte dinge in een oogwink gaan opgelos en weggevat kry nie en ek praat van persoonlike ondervinding! Ek mag die Woord van die Here vir julle bring, maar ek is ook ‘n mens en ek het ook my eie foute! Net soos almal daar buite is hierdie kleipot ook vol krake! Krake wat ek wens ek weg kan kry sodat die lewende water kan ophou om uit my uit te drup. Ek het dit eenslag met Jesus opgevat en gevra waarom ek dan so stukkend moet wees en raai wat het Hy geantwoord: “As jy heel was, waardeur sal My lig dan skyn?” Dis waar, want Jesus se lig skyn deur my foute na julle toe en ten spyte van al my foute, red ek siele vir Jesus! Prys Sy Naam!

Julle sien, deur die jare bou satan kastele in jou verstand op om te keer teen verandering. Hierdie kastele word beman deur legioene demone en hulle gaan nie toelaat dat jy sommer oorvat om ‘n verandering in jou lewe te bewerkstellig nie. Hulle gaan ‘n geveg op tou sit soos wat jy nog nooit gesien het nie! Hierdie kastele moet een vir een aangeval word, oorwin word en dan met die hand afgebreek word. Dit is nie iets wat sommer met een gebed reggekry kan word nie. Dit vat opoffering, deursettingsvermoë en ‘n wil van absolute yster!

Jy gaan terugval en jy gaan vir satan in baie opsigte kans gee om die skade wat aangerig is weer te kan opbou. In my eie lewe het ek al so baie keer teruggeval dat ek al opgehou tel het! Die geheim is om net nie op te hou nie en aan te hou. Dit gaan nie oor hoe jy vaal nie, maar hoe jy opstaan om weer te kom baklei!

Weet julle wat is die lekkerste? As jy eers daardie kasteel afgebreek het en die klippe verstrooi het, dan val satan jou nooit weer op daardie manier aan nie! Daardie gevoel van oorwinning is so soet, ek kan dit vir niemand beskryf nie! Dit, liewe leser, is die rede waarom Jesus jou help oorwin, maar nie die werk namens jou doen nie! Hy wil daardie oorwinning nie van jou wegvat nie en dis ook waarom die een gebed wat alles oplos nie kan werk nie!

Dis dus heeltemal waar: ons gaan nooit perfek wees sonder Jesus nie; daarvoor is ons te sondig. Ons kan aan die einde van die dag net staat maak op Jesus se genade en sy liefde vir ons, maar ons kan aanhou probeer, want elke opoffering wat ons maak, word deur die Here raakgesien! Dis hoe ons as mense bewys dat ons vir Jesus lief het, deur die opofferinge wat ons vir Hom maak en dis waarom ons aanhou probeer!

Prys die Wonderlike Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk