Almal van ons, het al op geleentheid gewonder waarom ons so versoek word en waarom Jesus dit toegelaat, so kom ons kyk vandag na hierdie vraag.
Ons probeer so hard om skoon te bly vir Jesus, maar ten spyte van ons beste pogings oortree ons tog een of ander tyd. Dis asof hierdie oortredings doelbewus beplan word sodat jy moet vaal of altans so voel dit vir ons. As jy dan val, dan voel jy dadelik vuil en is jy skaam om voor Jesus te gaan erken dat jy gevaal het. Jy probeer wegkruip vir Jesus en jy verwyt jouself met woorde soos: “Jy moes van beter geweet het” of “Jy is ‘n swakkeling omdat jy weereens geval het”.
Hierdie gevoel van verwerping en verdoeming, liewe lesers, kom nie van Jesus af nie. Dis satan wat jy so aankla! Vir Jesus bly jy nog steeds die mooiste wese wat daar ooit was, ten spyte van die feit dat jy ingegee het. Satan gebruik hierdie gevoel van verwerping en verdoeming om jou sover te kry om weg te kruip van Jesus af. Hy weet maar net te goed dat Jesus gereed staan om jou te vergewe en dit probeer hy ten alle koste vermy! Elke slag as jy direk na Jesus toe teruggaan nadat jy geval het, dan ontneem jy vir satan ‘n latere geleentheid om jou weer oor dieselfde oortreding aan te val en hy weet dit! Nou vertel hy vir jou hoe kwaad en teleurgesteld God in jou is en dit is LEUENS!
Die mens is sondig van natuur. Dis deel van die kruis wat ons vir Jesus moet dra en soms word daardie kruis net te swaar om bo te hou. Dit gebeur, maar dit beteken nie dat Jesus minder lief is vir jou of dat Hy jou gaan verwerp nie. Dit sal in der ewigheid nooit gebeur nie en Hy sê dit so in Sy Woord! “Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” (Jesaja 43:1)
Satan hou daarvan om die blaam rond te skuif sodat dit moet lyk of hy iets goed is en dis waarom hy in jou oor fluister dat jy deur God versoek word. Net soos alles wat satan doen, is dit ook ‘n leuen, want in Jakobus 1:13 staan “Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.”
Dit is waar dat daar is beproewinge is wat veronderstel is om ons te laat faal, maar hierdie kom nie van Jesus af nie. Dit kom van satan af en Jesus laat hierdie beproewinge toe tot ons voordeel. God het toegelaat dat satan vir Job tref met allerhande slegte dinge, maar hierdie beproewinge was nie bedoel om vir Job te laat val nie, maar om hom sterker te maak. Die selfde het gebeur met Abram wat vir Isak moes gaan offer. God wou hom versterk vir dit wat aan die kom was en vir Abraham se rol as vader van ‘n nasie.
Jesus doen dit met jou en my ook, liewe leser. Hy laat toe dat satan jou in die modder rol sodat jou geloof verstek kan word en jy kan leer uit die ondervinding uit. Satan dink natuurlik dat hy wen, maar hy verloor eintlik. Baie van julle sal weet dat die oortredinge wat julle as jong Christene gedoen het, julle nie meer doen nie. Waarom nie? Want jy het geleer dat daar niks goed uit kan kom nie. Hoe het jy dit geleer? Deur Jesus wat toegelaat het dat satan jou versoek het in die gebiede waar jou geloof swakker was. Nou is jou geloof sterk in daardie gebied en val satan jou ook nie meer sodanig aan nie. Verstaan julle?
Om mee af te sluit: dis ‘n leuen van satan dat God ons versoek. As jy oortree het, gaan dan dadelik terug na Jesus. Moenie toelaat dat satan jou verder kasty met gevoelens van onwaardigheid of verdoeming nie. Jesus staan gereed om jou te vergewe; vier-en-twintig uur per dag, sewe-dae-per-week! Jesus vat al ons oortredinge en Hy verdrink hulle in Sy see van oorvloedige genade, maar net as ons Hom vra om dit te doen.
Selfs al oortree jy, maak dit nie dat God minder lief vir jou is nie. Jy bly God se gunsteling skepping en dit sal in der ewigheid nooit verander nie.
Word nou versterk met die volgende verse uit die Woord van die HERE.
“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreld heersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” (Efesiërs 6:12)
“Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.” (Jakobus 1:2-3)
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!