Ons is baie keer soos stout kinders wat net ons eie sin wil hê en dan doen eers en wonder later oor die gevolge van dit wat ons gedoen het…
Elke dag moet ons keuses uitoefen wat ander mense se lewens beïnvloed. Ek gaan nou ‘n voorbeeld vat wat binne my veld van belangstelling lê. ‘n Nuwe rekenaar speletjie verskyn op die mark en dis iets wat jy al lankal wou aanskaf, maar die prys is ‘n bietjie hoog. Jy kan dit bekostig, maar dan gaan jy van jou ander uitgawes moet sny om alles vir die maand bymekaar te kan bring.
Dan hoor jy dan ‘n vriend hierdie speletjie klaar het en dat hy dit van een of ander web ruimte afgelaai het waar mens nie hoef te betaal daarvoor nie. Jy begin wonder… miskien kan ek die speletjie by hom kry dan hoef ek nie enige geld daarvoor te betaal nie en so ook nie vir die res van die maand sonder geld te sit nie. Wie gaan in elke geval daarvan weet? Sonder om twee keer te dink, maak jy ‘n afskrif van die speletjie en installeer dit vir jou. Jy is baie gelukkig en dit is alles wat jy nou altyd wou gehad het, maar dan kom die probleme.
Jy ry oor ‘n spyker met jou motor en die spyker steek op so ‘n plek in die band in dat die band nie reggemaak kan word nie. Jou enigste oplossing is om die band te vervang. Dan kry jy ‘n aanmaning in die pos oor ‘n verkeersboete wat al maande uitstaande is. Jy het skoon daarvan vergeet. Die boete plus die uitstaande fooie is hoog en jy wonder waarom die ongeluk jou nou so ry. Jy bid en lees Bybel elke dag en jou verhouding met Jesus is reg en jy wonder waarom Jesus hierdie goed oor jou pad laat kom…
Iets wat jy nie aan gedink het nie, is dat Jesus baie hoë waarde heg aan eerlikheid. Toe jy daardie rekenaar speletjie gekopieer het, het jy iemand se inkomste gesteel. Jy het onwetend ‘n deur vir satan in jou lewe oopgemaak en jouself op ‘n plek gesit waar Jesus jou nie kan beskerm nie.
Julle weet, hierdie het eenslag met my gebeur; so julle kan sê ek praat van ondervinding! Nog nooit het so baie dinge wat ‘n finansiële impak het so vinnig vir my skeef geloop nie! Dis dan wanneer jy leer dat die reguit pad die enigste pad is wat Jesus saam met jou kan loop!
As jy dus Jesus se grootste seëninge wil ontvang, dan moet jy ‘n eerlike lewenspad bewandel. Sommige mense sal nou sê, maar wat van die Christene wat Bybels in China insmokkel? Is dit dan nie oneerlik nie? Die feit dat Bybels onwettig is in China, is die mens se eie wette, dis nie God se wet nie. Mense wat dus Bybels in China insmokkel is dus geregverdig om dit te doen, want hulle oortree nie enige van God se wette as hulle dit doen nie. Steel en oneerlikheid is egter ‘n perd van ‘n totaal ander kleur. Jesus kan ons nie seën as ons kortpaaie wil vat nie. As jy Jesus se Kind is, dan behoort jy aan Hom en dit beteken dat jy sonder bedrog moet wees!
Jesus het ons baie lief en daarom sal Hy ons dissiplineer as ons sy wet oortree. Hy sal doelbewus toelaat sat satan jou so ‘n bietjie in die modder rol sodat jy kan leer. Moet dus nie toe laat dat enige iets van die wêreld in jou hart gevind kan word nie, liewe Kind van die HERE. Leer uit jou foute. Elke dag is daar verskillende paai wat jy kan vat, maar die doel is nie om die kortste of die vinnigste pad te vat nie, maar die pad wat jy saam met Jesus gaan hou en jy gaan laat groei saam met Hom! Prys Sy Naam! Selfs al kos die pad wat jy kies jou meer moeite, Jesus se seëninge sal later meer oorvloedig wees!
Moenie julle hande vuil maak met die bloed van oordeel nie. Bid eerder vir genade vir die wêreld en vergewe mekaar se oortredinge, selfs vir die wat dit glad nie verdien nie. Op daardie manier sal ons wees soos die Vader wat genade betoon aan almal; selfs die onregverdiges wat op die ou end net pionne is in die hande van satan.
Jesus gaan terugkom om alles reg te maak, maar tot daardie dag moet ons bid vir genade. Bring die wat oortree na die troon van die Vader in gebed. Bid, want die tyd is so kort en Jesus wil nie hê dat een verlore moet gaan nie. Dis nog nie te laat nie!
Mag die HERE hierdie boodskap seën!