Vrese, vergifnis en aanvaarding

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Onthou julle dat ek gesê het dat ons almal in die leerskool van Jesus is? Dat Jesus dinge oor ons lewens laat kom sodat ons daaruit moet leer? Voorvalle soos dit is nie eenmalig nie en dit gebeur met almal van ons, my ook!

Moet nooit dink dat omdat ek ‘n leraar is, dat die HERE my ontsien van leringe nie. Dis nie hoe dit werk nie, want ek word baie getoets en ek leer uit die toetse uit net soos julle! Dis waarom ek vandag hierdie persoonlike getuienis vir julle het.

Ek krap baie op YouTube rond en ek hou daarvan om na Christelike video’s te kyk. Jy kry baie mense wat op YouTube pos, maar nie alles wat jy sien is altyd stigtelik nie. So het ek na hierdie reeks Christelike video’s gekyk wat gehandel het oor die wegraping en dit wat daarna gaan gebeur. Dit was verskriklik ontstellend en ek moet erken dat ek spyt was dat ek daarna gekyk het.

Daardie aand het ‘n vrees my beetgepak soos wat ek nog nooit beleef het nie. My grootste vrees is dat ek gaan agterbly in die wegraping en satan weet dit! Hierdie video’s wat ek gesit en kyk het, Christelik van aard, was presies wat sekelstert nodig gehad het…

Ek het van my probeer afstoot, maar dit wou nie werk nie. Ek het begin bid en eerstens vergifnis gevra vir enige oortredinge wat ek mag begaan het gedurende die dag; ook dit wat ek dalk van vergeet het. In my gebed het ek ‘n kalm kolletjie gekry waar Jesus aan herinner het aan Romeine 8:1 “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” Jesus was nog nie klaar nie, want Hy het ook 1 Tessalonisense 1:10 bygevoeg “en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.” Hierna het satan stert tussen die bene weggehardloop! Prys die Naam van Jesus!

Die ergste van alles is dat ek hierdie verse ken, want dis in my hart gegraveer! Ek weet dat daar vir ons wat glo geen veroordeling is nie, veral nie vir ons wat Jesus se koms verwag nie en die hele tyd daarvoor gereedmaak nie! Ek dink dat Jesus toegelaat het dat ek tydelik daarvan vergeet sodat ek hierdie boodskap kan skryf en iemand wat dalk al lank met hierdie probleem sit kan wys dat daar verlossing by Jesus is!

Onthou, jy het nie nodig om vir satan bang te wees nie, maar moet hom nie onderskat nie! Nie eers Jesus het vir satan onderskat nie. Om dit te doen is baie dom, want satan is baie slinkser as wat ek of jy ooit kan wees en hy ken jou soos wat jy jouself nie eers ken nie. Die feit dat ek na Jesus toe gegaan het was iets wat hy nie verwag het nie. Onthou dus, liewe leser, dat jy altyd na Jesus toe kan gaan, selfs al is jy besmet met sonde. Jesus sal jou nooit wegwys nie!

Niemand van ons sal ooit sonder sonde wees nie, want sonde is in ons natuur. Die beste wat jy kan doen is om ‘n kompromie te bereik met jou swakhede en Jesus toe te laat om die tekortkominge aan te vul. Jesus wil so graag hê dat jy na Hom toe moet kom, want Hy wil saam met jou aan jou tekortkominge werk. Jy het nie nodig om alleen te sukkel nie. Gee daarom vir Jesus daardie kans.

Soos ek al voorheen gesê het, daar moet krake in jou lewe wees, want as daar nie was nie, waardeur sou Jesus se lig in jou dan na buite skyn? Hoe sal mense na die lig aangetrek word as daar nie krake was waardeur dit na buite geskyn het nie?

Sien julle? Ons is almal dieselfde; almal stukkend, vol krake en verniel, maar Jesus het ons almal lief, net soos ons is. Glo in Hom. Glo dat Hy ons binnekort gaan kom haal. Maak reg wat jy kan en los die res van Jesus. Hy sal dit uitsorteer op Sy tyd; nie ons tyd nie.

Prys die Wonderlike Naam van ons Heiland en Koning!

(Visited 200 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .