Waarom glo sommige in die wegraping en ander nie?

Ek het baie gewonder waarom daar mense is wat glo in die wegraping en waarom daar mense is wat nie glo nie…

Daar is drie sienings rondom die wegraping: die wat glo dat die wegraping voor die verdrukking gaan plaasvind, die wat glo dat die wegraping in die middel van die verdrukking gaan plaasvind en die wat glo dat die wegraping aan die einde van die verdrukking gaan plaasvind. My doel met hierdie boodskap is nie om die een teorie op te bou of om die ander teorieë af te breek nie, maar eerder om die waarom te beantwoord.

Ek het vir Jesus gevra waarom daar hierdie verskillende groepe is waar die een glo en die ander nie glo nie en Hy het my die geantwoord gegee.

Julle sien, daar moet hierdie verskillende groepe wees, want dis die Wil van die Vader. As almal wat gered is met die wegraping geneem gaan word, wie gaan die Woord van God verkondig aan die wat gaan agterbly? Iemand moet agterbly om die waarheid te verkondig en so die groot siele oes wat onmiddellik na die wegraping gaan plaasvind aan die gang sit. Onthou dat die meeste wêreldlinge gaan gee idee hê van wat gebeur het nie en hulle gaan ook nie verstaan wat aangaan nie.

Dit gaan lei tot wilde teorieë en uiteindelik tot die vervulling van Paulus se woorde in 2 Tessalonisense 2:11-12: “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” Mense gaan die leuen glo wat vertel gaan word oor waar al die mense wat nie meer hier is nie heengegaan het en hulle gaan die krag van daardie leuen glo, net soos die Bybel voorspel het gaan gebeur.

Verder moet daar mense wees wat gaan dien as getuienis vir ‘n wêreld wat nie wil luister nie en om ander te vertel van die goeie nuus dat Jesus weer gaan terugkom. Die wat nou nie glo in die wegraping nie, is die wat gekies is om hierdie nuus te gaan oordra. Uit die aard van die saak is dit ‘n salige roeping en ek admireer hierdie mense dat hulle hulleself op die manier wil offer vir die werk van God.

Ek kan vir julle sê dat dit iets is wat ek nie wil deurgaan nie, want die Gees het aan my geopenbaar dat die verdrukking nie ‘n uitstappie op die strand gaan wees nie… Die wat gaan agterbly se geloof gaan getoets word tot op die uiterste en dit gaan die gevaarlikste tyd wees om in te lewe vir enige ware Kind van God. Baie gaan die geloof prysgee in daardie tyd omdat hulle gaan kies om te lewe eerder as om te sterf vir hulle geloof…

Ek bewonder die wat nie in die wegraping glo nie, want hulle is baie dapperder as wat ek ooit is en ek is nie skaam om dit te sê nie. Ek is bly vir hierdie verskillende groepe en ek verstaan waarom hierdie verskille daar is en dat dit die Wil van die Vader is. Hopelik verstaan julle dit nou ook. Moet daarom nie betrokke raak in ‘n onnodige gestryery om te bewys wie reg is nie, want daardie pad loop nie tot stigting vir die liggaam van Christus nie. Elke persoon moet sy eie keuse maak soos die Heilige Gees daardie persoon lei.

Prys die Naam van die HERE!

(Visited 396 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .