Ek het baie gewonder waarom daar mense is wat glo in die wegraping en waarom daar mense is wat nie glo nie…
My doel is nie om die een teorie bo die ander te bewys nie; daaroor het ek al baie geskryf en ek voel dat ek genoeg daaroor gesê het. Ek gaan ook nie die argumente wat deur beide sienings gebruik word om hulle kant van die saak as reg te bewys aanhaal nie. My doel is om die vraag van waarom te beantwoord. Waarom is daar hierdie twee sienings?
Ek het vir Jesus gevra waarom daar hierdie twee groepe is waar die een glo en die ander nie glo nie en Hy het my geantwoord.
Julle sien, daar moet twee groepe wees, want dis die Wil van die Vader. As almal wat gered is met die wegraping geneem gaan word, wie gaan die Woord van God aan die wat gaan agterbly verkondig? Verstaan julle waarom daar twee groepe moet wees? Iemand moet agterbly om die waarheid te verkondig en so die groot siele oes wat onmiddellik na die wegraping gaan plaasvind aan die gang sit. Onthou dat die meeste wêreldlinge gaan gee idee hê van wat gebeur het nie en hulle gaan ook nie verstaan wat aangaan nie.
Verder moet daar mense wees wat gaan dien as getuienis vir ‘n wêreld wat nie wil luister nie en om ander te vertel van die goeie nuus dat Jesus weer gaan terugkom. Die wat nou nie glo in die wegraping nie is die wat gekies is om hierdie nuus te gaan oordra. Uit die aard van die saak is dit ‘n salige roeping en ek admireer hierdie mense dat hulle hulleself op die manier wil offer vir die werk van God.
Ek kan vir julle sê dat dit iets is wat ek nie wil deurgaan nie, want die Gees het aan my geopenbaar dat die verdrukking nie ‘n uitstappie op die strand gaan wees nie… Dit gaan nie iets wees soos ‘n ekonomiese krisis waardeur die mens maar net moet gaan nie. Die wat gaan agterbly se geloof gaan getoets word tot op die uiterste, want dit gaan die gevaarlikste tyd wees om in te lewe vir enige ware Kind van God. Baie gaan die geloof prysgee in daardie tyd omdat hulle gaan kies om te lewe eerder as om te sterf vir hulle geloof…
Ek bewonder die wat nie in die wegraping glo nie, want hulle is baie dapperder as wat ek ooit is en ek is nie skaam om dit te sê nie. Ek is bly vir beide groepe, want ek weet waarom dit so moet wees. Dis die Wil van die Vader dat daar hierdie twee groepe moet wees en nou verstaan julle ook hierdie doel. Moet daarom nie betrokke raak in ‘n onnodige gestryery om te bewys wie reg is nie, want daardie pad loop nie tot stigting nie.
Prys die Naam van die HERE!