Die koms van die HERE vir Sy Bruid is hier; jubel, die wat julle gereed gemaak het, want die dag van die HERE is voor die deur.
Vandag het ek ‘n boodskap van die HERE vir julle. Daardie boodskap gaan hard wees en moeilik om te verteer, maar dit is die Wil van die HERE dat hierdie boodskap uit moet gaan.
Jesus sê: “Aan julle wat vroeër gesondig het as ook aan die wat nog steeds sondig sê Ek dat as ek weer kom, gaan ek nie spaar nie!” (2 Korintiërs 13:2)
Die dag van die HERE gaan iets vreesliks wees om te aanskou. Mense gaan hardloop en nie weet waarheen nie as die HERE Sy oordeel gaan laat geld oor ‘n wêreld wat weier om Hom te ken.
“Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie.” (Maleági 4:1)
Jesus gaan kom vir Sy Bruid; die wat hulle gereed gemaak het en afskeid geneem het van sonde en dit gaan in ‘n oogwink gebeur. Op daardie dag gaan die HERE Sy oordeel laat geld oor ‘n wêreld wat weier om Hom te ken. Oor almal wat goddeloosheid bedrywe en die wat weier om die evangelie te gehoorsaam! Luister daarom na die stem van die HERE as jy ore het om te hoor, want hierdie kan heel moontlik die laaste waarskuwing wees wat uit sal gaan om gereed te maak!
“Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.” (Maleági 4:2)
Die wat gereed is, met hulle bruilofskleed aan hoef daardie dag nie te vrees nie. Die wat gereed is, gaan gered word van die oordeel, want die oordeel kom hulle nie toe nie! Prys die Naam van die HERE!
Vir die wat nog in ‘n sluimer is oor die verdrukking en dink dat dit net nog ‘n ding is waardeur daar gegaan gaan moet word; LET OP en LUISTER! Dit gaan iets wees wat hierdie wêreld nog nooit aanskou het nie. Moenie met jou ewigheid speel nie, want dis nie die moeite werd nie. Laat staan daardie sonde wat jou so aan hierdie wêreld vasgebind hou, want niks goed kan daaruit kom nie.
Op daardie dag gaan die wêreld leer wat ware vrees is. Jy hoef nie een van hulle te wees nie. Om die waarheid te sê, staan die deur oop en Jesus wag vir jou om daardie eerste stap te neem as jy nog nie gered is nie. As jy klaar gered is, sorg dat jou bruilofskleed skoon is, want daar is nie meer tyd oor nie. Jesus wil nie hê dat jy deur daardie hel moet gaan nie, maar die keuse is joune om te maak.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën dat dit op vrugbare grond sal val! AMEN!
