Is die hel ‘n werklikheid?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Hierdie is ‘n vraag wat ons almal een of ander tyd oor gewonder het. Die geleerde mense sal vir jou sê dat die hel nie bestaan nie, maar dat dit net ‘n toestand van die gemoed is. Ek gaan van hulle verskil op die een!

Die enigste beskrywing wat die Bybel vir ons oor die hel gee is in Lukas 16:19-31. Dis die storie van die ryk jong man en Lazarus wat ons almal seker ken. Meer as dit sê die Bybel nie oor die hel nie. Ek is seker daarvan dat die HERE dit doelbewus doen sodat ons op Hom moet konsentreer eerder as om aan daardie verskriklike plek te dink. Ek was egter nuuskierig en het gaan navorsing doen hieroor. Ek het na verskeie getuienisse van mense geluister en gelees. Mense wat na-doodse ondervindinge gehad het in die hel. Die getuienisse is van mense regoor die wêreld; Suid-Afrikaners ook! Hierdie mense ken mekaar glad nie, maar die getuienisse is almal die selfde!

Die beskrywing wat gegee word deur almal is ‘n plek van swart gebrande klippe en ‘n ongelooflike hitte. Die hitte is onuithoubaar… Daar is geen son nie. Die horison gloei rooi en die reuk van salpeter is heeltyd in die lug. Daar is ‘n ewigdurende weeklaag in die lug soos mense mekaar die skuld gee omdat hulle hier is. Daar is poele met vuur en potte met kokende lawa waarin siele gepynig word. In al die getuienisse beskryf die getuies hoe dors hulle was, maar dat daar nie ‘n enkele druppel water enige plek was nie. In Lukas 16:24 lees ons: “Vader Abraham, ontferm u oor my. Stuur tog vir Lasarus dat hy net die punt van sy vinger in water steek en my tong afkoel, want ek ly verskriklik in hierdie vuur.” Hierdie teksvers staaf hierdie getuienis.

In een van die getuienisse beskryf die getuie dat hy homself in ‘n tronksel bevind het saam met ‘n drie en ‘n halwe meter lange gedrog. Die sel was donker binne in en hy kon nooit behoorlik sien hoe die demoon lyk nie, maar hy sê dat hy nog nooit in sy lewe ‘n haat soos dit gevoel het nie. Laasgenoemde is verstaanbaar, want ons is gemaak na die ewebeeld van God. Ons stel alles voor wat nie een van satan se demone ooit meer kan wees nie. Dis waarom hulle ons so haat. Die demoon was aan hom toegeken en dit was sy plig om hom te pynig. Die demoon het hom opgetel en hom teen die muur geslinger asof hy ‘n vuil stuk wasgoed was. Om een of ander rede het die demoon hom daar gelos en niks verder gedoen nie.

In die hel is daar geen liefde nie en geen genade nie. Hierdie is konsepte wat van God af kom en omdat God nie in die hel kan wees nie, ontbreek hierdie dinge ook daar. In die hel kan jy ook nooit doodgaan nie, maak nie saak wat die demone met jou maak nie. Een van die getuies het beskryf hoe ‘n groep demone iemand aangerand het. Hoe meer hierdie persoon gesmeek het om genade hoe harder het hulle gelag en hoe wreder het die aanvalle geword. Einde te laaste het een van die demone die man se kop met ‘n swaard afgekap. Die ander een het uitbundig gelag, die kop gaan optel en dit op die liggaam teruggesit. Daarna het hulle voortgegaan terwyl die man van vooraf gesmeek het om genade.

Die een getuie het beskryf hoe hy van die vriende tussen al die mense gesien het. Sy vriende het almal geskreeu dat hy moet teruggaan en nooit na hierdie plek toe moet kom nie… In die hel is daar geen uitkom kans nie. As iemand eers daar is, dan is dit vir ewig. Geen omdraai of tweede kans is ooit moontlik nie.

Die ergste is dat satan hierdie dinge weet! Hy ken God se Woord en hy glo dit, want hy weet dat dit waar gaan word. Satan gee nie om vir jou en my as mens nie. Ons is vir hom alles wat hy of sy demone nooit meer kan wees nie. Hy haat ons as mens met ‘n haat wat nooit beskryf kan word nie. Satan weet wat sy uiteinde gaan wees, daarom is sy uitsluitlike doel om soveel mense in die hel saam met hom te kry as wat moontlik is. ‘n Siel vir satan is ‘n siel minder vir God! Dit gaan uit en uit oor getalle!

Die hel is nie vir ons as mens gemaak nie, maar vir satan en sy volgelinge. Satan weet dit, maar hy sal dit nooit vir enige iemand vertel nie. Hy lieg en verlei mense om hom te volg deur vir hulle allerhande dinge te belowe. Niks hiervan is waar nie, want hy gebruik jou om sy vuilwerk te doen!

Satan sal nooit vir jou of vir enige iemand vertel dat jy ‘n keuse het nie. Daarom stap duisende mense in hierdie wêreld van ons rond sonder dat hulle bewus is dat hulle ‘n keuse het! Die HERE het Sy bloed op Golgota gestort vir elke siel daar buite sodat nie een van ons nodig het om hel toe te gaan nie. Jy kan nou kies om nooit hel toe te gaan nie! Al wat jy moet doen is om jou knieë te gaan Jesus te aanvaar as jou Saligmaker.

Vir die van julle wat hierdie lees wat betrokke is by die okkult, weet dit dat die HERE jou sal beskerm as jy die besluit neem om weg te breek en jou hart en lewe vir die HERE te gee. Die HERE sal jou na Hom toe aantrek met teerheid en groot vergifnis. Die HERE ken jou en hy weet klaar van alles wat jy doen. Hy sien hoe satan jou mislei en Hy verstaan hoe gebroke en desperaat jy is. Jy was baie sleg behandel deur baie in jou lewe. Daarom nooi die HERE jou nou uit om deel van sy familie te word waar jy versorg en beskerm sal word. Jy is ongelooflik kosbaar vir die HERE. Gaan nou na Hom toe.

Bid hierdie gebed saam met my: Jesus, ek het gesondig. Vergewe my asseblief. Ek glo dat U gekom het om my te red van die ewige verderf saam met die demone. Ek glo dat u in die vlees gekom het om te sterf op Golgota vir my en u bloed vir my gestort het, sodat ek gered kan word en in U Koningryk mag ingaan. Ek glo dat U my liefhet en dat U my in U koningryk wil hê. Kom en neem my lewe oor asseblief. Ek gee aan U my lewe om te regeer! Ek verwerp satan, al sy leë beloftes, al sy leuens en enige verbintenis wat ek moet hom het. Ek bid dat U bloed my sal beskerm soos ek wegbreek. Ek gee my lewe aan U o’ Heer. Wees my genadig en beskerm my van die bose. Amen!

Mag die Here hierdie boodskap seën!