Klou vas aan God se Beloftes

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Dit verbaas my al hoe meer en meer as ek sien hoe die Woord van die Here in vervulling kom. Die meeste mense daarbuite sien dit nie eers raak nie! Ek verwys nou spesifiek na 2 Timoteus 3 vers een: “MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom.”

Ek sien dit rondom my: Ou mense wat met so min oor die weg moet kom, hulle kan eenvoudig net nie meer ‘n ordentlike maaltyd bekostig nie. Mense wat hulle werk verloor as gevolg van besighede wat net nie meer kan bekostig om hulle in diens te hou nie. Ek is self in die besigheid wêreld en ek bestuur self ‘n eie besigheid. Ons almal het laas jaar gehoop vir ‘n beter jaar die jaar, maar sovêr is dit slegter as vorige! Mense het eenvoudig opgehou met koop. Waar my verkope in die verlede etlike duisende elke maand beloop het, is dit nou minder as die helfte van wat dit was! Elke maand skuur ek en baie ander besighede net-net deur! Ek kan van een ding getuig en dit is dat as ek nie die Here aan my kant gehad het nie, ek lankal in die hek sou geduik het! Elke dag prys ek die Here vir sy genade! Die beste van alles is, dat die Woord van die Here ons gewaarsku het! Ons kan dus nie sê dat ons nie geweet het nie!

Daar is ongeveer 1700 beloftes in die Bybel. In Christus is elkeen van hierdie beloftes waar, maak nie saak aan wie dit gemaak is nie. Al wat ons moet doen is om is om hierdie beloftes in geloof te vat, ons eie te maak en dit sal so wees!

Hier is ‘n paar in Romeine 8 wat u gerus kan onthou:

  • Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het. (Rom 8:37)
  • Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? (Rom 8:35)
  • En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. (Rom 8:28)
  • Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. (Rom 8:33)
  • Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? (Rom 8:31)
  • En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp… (Rom 8:26)
  • Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie… (Rom 8:1)
  • en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus… (Rom 8:17)

Maak ‘n punt daarvan om soveel moontlik van hierdie beloftes in u Bybel te vind. Merk hulle in kleur sodat dit maklik ge-identifiseer kan word  as u weer u Bybel lees.

Ek gaan afsluit met ‘n onthulling wat ek die week gehad het. Wie van julle weet hoe vinnig ‘n oogknip is? Volgens wetenskaplike navorsing duur ‘n oogknip tussen 100ste en 150ste van ‘n sekonde. Dis so vinnig dat ‘n mens se brein nie eers die oogknip registreer nie! Die Bybel se vir ons dat die wegraping in ‘n oogknip sal gebeur; dus 100ste van ‘n sekonde! Jesus self sê dat sy koms aal wees soos die weerlig wat in die ooste slaan en tot in die weste skyn! Daar gaan nie eers tyd wees om te sê jy is jammer nie! As jy nie reg is nie, gaan jy agterbly! As daar dinge in jou lewe is wat nie reg is nie, maak dit dan reg, asseblief! Die Here gaan kom en alles gaan oor wees voor enige iemand weet wat aangaan! Moenie uitgevang word nie, asseblief!

Mag die Here hierdie boodskap seën!

(Visited 916 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .